Stereotipes
top of page

Stereotipes


Lees Galasiërs 3:28


Stereotipes is dodelik en omtrent elke keer verkeerd! Tog bepaal daardie einste stereotipes, wat ons in ons koppe oor ander mense ronddra, hoe ons hulle behandel. Kyk maar na die stereotipes oor sekere stede in ons land se motorbestuurders. Of oor blondines, tweedehandse motorverkopers, mense van ‘n ander velkleur - noem maar op. Die meeste van die tyd is daardie mense glad nie eens soos ons geykte idees oor hulle nie. Nogtans klou ons hardnekkig hieraan vas. Stereotipes oorheers ons lewe.


In die kerk was dit vir jare lank mode om ‘n skeidslyn te handhaaf tussen ons en hulle, tussen heiliges en sondaars, Christene en heidene. Maar dit is opvallend dat Jesus al hierdie stereotipes tydens Sy aardse optrede deurbreek het deur tussen sondaars, armes, onreines en nie-Jode te loop en te leef. Hy was statusblind, kleurblind en magsblind. Hy het almal met oop arms ontvang. Dis hoe ons ook moet leef. Ons moet net oë vir God se goedheid hê. Dis al. Die Here se Gees stroop ons in elk geval van ons vooroordele. Hy gun ons nie die dwaasheid om ander mense aan die hand van vooropgesette idees te behandel nie. Daarom moet ons alle mense ‘n gelyke kans in ons teenwoordigheid gee. In ons geselskap moet mans en vrouens, ryk en arm, wit en swart met dieselfde agting en respek behandel word.


Gebed:

Maak ons vry van ons stereotipering. Gee dat ons alle mense dieselfde sal behandel. Amen.

bottom of page