Stemme ...
top of page

Stemme ...


As daar een vaardigheid is wat die mense van God weer sal moet aanleer, is dit stemidentifisering. Ons kan nie die (W)waarheid volg as ons nie weet watter stemme die waarheid verteenwoordig nie. Met soveel verskillende stemme oor allerhande sake vandag, sal enige iemand van sy verstand af raak om te probeer onderskei tussen na wie om te luister en wie nie.


Ek onthou baie goed hoe een vriend vir my vertel het dat, toe hy destyds in die weermag was, sy peloton die belangrikheid van hierdie saak aan hulle eie velle gevoel het. Op die paradegrond, waar al die verskillende pelotonne moes dril en marsjeer, was dit soms moeilik om kop te hou en te weet wat om te doen. Die rede hiervoor was dat al die verskillende drilsersante meestal tegelykertyd hulle uiteenlopende bevele aan hulle eie pelotonne uitgeskreeu het. Soms het die naburige peloton se drilsersant fisies nader aan jou gestaan en bevele uitgedeel - jou eie drilsersant kon jy in so ‘n geval nie hoor nie. Dan het jy maklik ‘n vreemde stem verwar met die regte een. Soms het lede van ‘n spesifieke peloton per ongeluk gereageer op die naburige drilsersant se bevele. Die aanvanklike gevolg tydens die eerste paar dae was algehele chaos.


Die oplossing was om so spoedig as moontlik jou eie bevelvoerder se stem goed genoeg te leer ken sodat jy sy stem sou herken bo al die ander. Slegs dan kon jy chaos vermy. Na ‘n paar dae, so vertel my vriend, het jy die intonasie, die nuanses, klank en diepte van jou eie drilsersant se stem begin herken. Dan het dinge makliker geraak, want dan het jy op slegs één stem gereageer.


Stemidentifisering is ook uiters noodsaaklik vir Jesus-navolging. Jesus sê in Johannes 10:3-4:


Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken.


Ons leer Jesus se stem ken, wanneer ons Hom in die Nuwe Testament bestudeer, wanneer ons uitsonderlike moeite doen met die Bybel en wanneer ons terselfdertyd hard bid vir onderskeiding. Wanneer ons nie bloot Bybelversies lees nie, maar elke boek in die Nuwe Testament gereeld en volledig in hulle eie kontekste lees, dan kan ons stelselmatig leer om ons Herder se stem te herken. Te veel gelowiges lees ook nie meer die Bybel vir hulleself nie, maar lees en luister na reeds verteerde Bybel-interpretasies van ander populêre skrywers en predikers. Let wel: die liggaam van die Here het goeie en getroue leraars nodig om mense te leer. Maar goeie leraars help hulle mense om die Bybel selfstandig te kan lees. Die geestelike metabolismes van vandag se mense het egter afgeleer om die growwe weefsel van die Bybel self te verteer. Daarom moet hulle alewig fyn verwerkte geestelike babakos inneem deur middel van geestelike selfhelpghoeroes, sodat hulle nie geestelike maagwerkings kry nie. Só sal niemand Jesus se stem leer ken nie.


Maar as ons weer kan leer om hard en noukeurig te lees, diep na te dink, en oomblik tot oomblik deur gebed in die Here se arms te bly, dan kan ons die klanke van God se stem begin hoor.


Dan kan die wêreld maar lawaai, want ons kén die stem van ons Herder!

bottom of page