Sorg dat jou wonde in littekens verander
top of page

Sorg dat jou wonde in littekens verander


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor die verskil tussen wonde en littekens in ons geloofslewens.
Sorg dat jou wonde in littekens verander

Daar is ’n verskil tussen ’n wond en ’n litteken. ’n Wond vertel van ‘n vars besering. ’n Litteken vertel van ‘n wond wat genees het. Almal van ons het littekens. Ten minste vertel dit dat ons die lewe geleef het, maar dat die lewe ons nog nie opgeleef het nie. Tog loop ’n paar mense steeds tussen ons rond met oop wonde. Hulle wil nie hê hulle bitterheid teenoor iemand anders moet gesond word nie. Of hulle ongelukkigheid met een of ander werk of kerk nie. Oor en oor vertel hulle vir elkeen wat wil luister hoe diep seergemaak hulle steeds is. Om so met seerkry en interne pyn om te gaan, is om te keer dat dit verander vanaf wonde na littekens. As ons gesond wil leef voor God en tussen ander mense, moet ons leer om ons bitterheid en woede en goor gedagtes te laat vaar. Dit begin wanneer ons aanhoudend ons fokus verskuif na God toe. Ons moenie boekhou van die kwaad nie. Ons moet weet en glo ons is nie lewenslange slagoffers van diegene wat ons seergemaak het nie. Of wat steeds probeer om dit te doen nie. Om sulke woede te laat vaar maak ons vry in die Here.

bottom of page