Sonder die regte “nee” kan daar nie ’n regte “ja” wees nie
top of page

Sonder die regte “nee” kan daar nie ’n regte “ja” wees nie


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor die spoed waarmee ons leef.
Sonder die regte “nee” kan daar nie ’n regte “ja” wees nie
“Don’t fool yourself. Speed kills,”

Almal weet dit. Nogtans jaag massas mense hulleself dood op die paaie. Baie mense jaag hulleself ook stokflou in die res van die lewe. Wanneer ek soms vir mense vra om hulle leefspoed in kilometer per uur uit te druk, sê baie hulle leef ver anderkant 120 km/h. Dit is té hoog. Ons is nie masjiene nie. Ons is nie gemaak om aanhoudend buite die spoedgrens te leef nie. Iewers gaan ons gesondheid knak onder sulke snelhede, waarteen ons gedurig rondhardloop na wie weet waarheen. Ons gaan ons familie en vriende verloor. Ons gaan ons geloof ernstig laat skade ly.


God het vir ons net een lewe gegee. Hy het ook aan ons die verantwoordelikheid gegee om dit goed op te pas en om tot Sy eer te leef. Dit vra eerstens dat ons moet weet ons kan nie optimaal onder aanhoudende stres funksioneer nie. Ons moet binne die regte snelheidsperk leef. Dit vra dat ons soms moet nee sê vir nog ’n afspraak, nog ’n taak, of nog ’n plig. God verwag van ons om ons liggaam en ons gees goed op te pas. Tweedens moet ons weet dat nie almal ewe veel toegang hoef te hê tot ons tyd, ons energie en ons aandag nie. Ons kan nie alles vir almal wees nie. Ons moet nee sê. Terloops, “nee” is ’n volledige sin, soos wat een slim ou gesê het. Om reg “nee” te sê vir energiestelende dinge en mense, is om in dieselfde asem reg ja te sê vir God en vir daardie mense wat Hy oor ons pad gestuur het. Sonder die regte soort “nee” kan daar nooit ’n goeie “ja” in ons lewe wees nie. Dan kan ons nie reg leef tot eer van God en tot voordeel van ander nie.

bottom of page