top of page
Writer's pictureStephan Joubert

So maak jy jou lewe eenvoudiger


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor hoe 'n geloofslewe van eenvoud lyk.
So maak jy jou lewe eenvoudiger

Dit is een ding om te sê die Here is jou Herder, soos wat Psalm 23 leer. Maar dit is iets anders om te sê jy kom niks kort nie. Moenie met ’n verbruikersmentaliteit opgeskeep sit nie. Moenie ’n voltydse tekort-kommer wees nie - nie as Psalm 23 jou leef-psalm is nie. Hoe? Wel, verwyder ’n klomp onnodige “stuff” uit jou lewe. Kom klaar met minder dinge.


Maar eenvoud is nie net om minder dinge te hê om oor te bekommer nie. Dit gaan oor vaste koersaanduiders in jou lewe wat jou lewe vereenvoduig. In ’n 2018 studie oor morele keuses het Maryam Kouchaki en ander navorsers bevind dat mense wat hulle besluite as morele besluite verstaan, minder daaroor nadink as diegene wat dit nie as morele vraagstukke sien nie. Die goeie nuus van hierdie studie is dat wanneer ons ‘n bepaalde saak vanuit ons beginsels beoordeel, dan neem ons dit meer spontaan as wanneer ons dit ter wille van oorlewing of selfsugtige behoeftes neem. In gewone taal gesê - wanneer ons vanuit ons geloofsbeginsels leef, vereenvoudig dit al ons keuses.


Kom ons neem een voorbeeld: die waarheid! Wanneer ons elke dag kies om die belt van waarheid te dra, soos wat Paulus in Efesiërs 6 skryf, en om op Jesus se pad van waarheid te leef (Johannes 14:3), dan is ons lewe koersvas. As ons weet dat leuens een van die dodelike sewe sondes is wat God met ’n passie haat soos wat Spreuke 6 leer, dan systap ons dit. Dan dink ons nie eers in verskillende situasies of ons die waarheid moet praat, en of ons moet jok nie. Dan is daar nie so ’n keuse nie! Wanneer ons van harte glo dat waarheid een van pilare van ons geloof is, dan gebeur dit spontaan op ons lippe en in ons lewe. Dan is ons lewens baie eenvoudiger as diegene wat hulleself gedurig vasdraai in leuens en wat dan weer nuwe jok-stories moet opdis om hieruit te probeer loskom.


Ons leef in ’n wêreld wat ligweg omgaan met die waarheid. Moenie dit doen nie, dit maak jou gewete so rekbaar soos kougom. Dit maak jou lewe ingewikkeld. Leef eenvoudiger: Praat die waarheid!

ความคิดเห็น


bottom of page