top of page

So leef ek stylvol vir die Here


  1. Ek vergelyk myself nooit met ander mense wat op sekere gebiede van die lewe slegter daaraan toe is as ek nie. Nooit gebruik ek hulle omstandighede om myself of ander rondom my aan te spoor om meer dankbaar te wees nie. Ek leer by die Here self om dankbaar te wees, nie by ander mense wat goor omstandighede beleef nie.

  2. Ek is nie ’n lewende dreigement, wat gedurig vir almal vertel dat ons dankbaar moet wees nie. Ek IS dankbaar. Ek staan elke dag dankbaar op. Ek leef elke dag dankbaar. Ek gaan slaap elke aand dankbaar. Ek sê elke dag vir die Here dankie vir elke dag se porsie seëninge.

  3. Ek kies om nie deel te neem aan negatiewe gesprekke nie. Ook kritiseer ek nie gedurig almal en alles rondom my wat dinge verkeerd doen nie. Daar’s oorgenoeg ander mense wat dit voltyds doen. Ek hoef nie ook nie.

  4. Ek oefen myself daarin om ’n naaste vir ander te wees. Ek vra gedurig vir die Here om my vir die nood en behoeftes van ander sensitief in te stem. Ek oefen myself daarin om ander se laste op my eie skouers te tel, soos wat Galasiërs 6 my leer om te doen.

  5. Ek is ’n opsoeker van goeie nuus. Ek is gedurig op soek na al die mooi dinge wat die Here besig is om in mense se lewens en in die wêreld rondom my te doen. Ek weier om saam te stem met diegene wat gedurig vertel hoe sleg dit in die kerk en elders gaan. Ek weet God is besig om Sy koninkryk orals te laat gebeur. Daarom kyk ek uit vir elke mosterdsaadjie, wat besig is om te groei tot ’n groot plant in Sy koninkryk.

  6. Ek bid nie maar net dat die Here met die minderbevoorregtes sal wees nie. Ek sorg ook dat ekself die antwoord is op sulke gebede deur my lewensmiddele met ander te deel. Ek weet ek het altyd iets om weg te gee - ’n stukkie brood, ’n gebed, ’n opbeurende woord, ’n kuier… Ek sorg dat ek my geloofsbelydenis,dat Christus die Here is, elke dag naleef.

Comments


bottom of page