• Stephan Joubert

So, jy sê jy staan op die Bybel….


So, jy sê jy staan op die Bybel….

Die Bybel is ons anker. Dit is die Boek waarop ons staan. Maar ek het agtergekom dit is ’n ander vraag hoeveel mense weet regtig wat in die Bybel staan. Self is ek dwarsdeur my katkisasie jare in die kerk sonder om ooit een enkele Bybelboek deur te werk. Ja, ek het hulle almal se name geken, maar dit is omtrent al. Vir myself was die Bybel min of meer die Groot Verseboek. Hiervan gepraat, ek onthou my tannie het so ’n klein boksie met Bybelversies langs haar bed gehad. As ons daar gekuier het moes ons elkeen ons versie vir die dag kom trek uit die boksie. Dit was net al die ‘mooi’ Bybelversies. Dit was beloftes oor wat God nog vir ons wil doen. Maar nooit het ek die Woord behoorlik leer lees nie. Ek is ook nie geleer om self verantwoordelik hiermee om te gaan nie.


As ’n jong teologie student het ek ernstig gesoek na die Here. Ek wou graag sy krag en nabyheid beleef. Na ernstige soektogte en gebede het een groot waarheid in my wakker geword. Ek het my eie reformasie, my tweede bekering beleef. Ek het oor en oor ervaar: “Lees die Woord. Oordink dit dag en nag.” Dit het my lewe verander. Dit doen steeds!


God het toe nooit 'n klompie verse aan mense gegee nie. Daarom is dit steeds hier in 2020 ’n halwe waarheid wanneer ‘Facebook apps’ so ewe Bybeversies uitdeel met die opskrif: ‘God’s verse for you!” (soos wat ek net verlede week iewers sien). Of wanneer mense sê hulle het Skrif gekry, maar dan bedoel hulle eintlik een of ander belofte of mooiklinkende vers wat pas by hulle eie behoeftes.


God gee Bybelboeke aan ons. So het Hy dit van die begin af gedoen. So doen Hy dit steeds in 2020. Daarom herinner ek myself en ander mense oor en oor daaraan dat Bybelverse nie deel van die oorspronklike Bybelboeke was nie. Eers in 1227 is hoofstukke deur Stephen Langton ingevoeg in die Bybel. Vers indelings soos wat ons dit ken, is deur Robert Estienne in die jaar 1555 gedoen.


Ek weet ek kan nie my lewe bou op ’n paar verse of beloftes in die Bybel nie. God is, met respek, nie een of ander robotagtige hemelse uitdeler van losstaande verse en beloftes uit een of ander hemelse boksie genaamd die Bybel nie. Hy is ons Vader in die hemel. Hy kom aan die woord in die Woord. Ek hoor Hom reg as ek sy boeke deurlees soos wat Hy dit oorspronklik aan ons gegee het. Ek lees sy Bybelboeke van voor tot agter deur. Dan eers kan ek verse hieruit reg verstaan en reg aanhaal.


So, jy sê jy staan op die Bybel. Jy sê glo dit. Mooi so! Maar ken jy dit? Het jy al een Bybelboek baasgeraak. Nog nie? Dan is dit tyd om nie maar net op die Bybel te staan nie, maar om af te klim en dit te lees en te oordink. Doen dit en jy sal leef.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: