• Siegfried Louw

Selfs wanneer jy nie kyk nie


Dit neem lank voordat ek hom gewaar. ʼn Mens kyk nou nie juis kniehoogte in ʼn skare in, met die verwagting om iets sinvol te sien nie.


Die tienergroepe en hulle leiers is vrolik. Hulle drom rondom die nagmaaltafel saam om hulle sap en broodjies te kry. Dit is die einde van die kwartaal en dit is hoog tyd vir hierdie kuiernagmaal. Groepleiers maak seker elkeen kry ʼn glasie en ʼn stukkie droë brood. Lofprysingsmusiek speel in die agtergrond. Die gewemel rondom die tafel kry nie einde nie.


Sommige kry weer hulle sit en gebruik die tekens saam, op hulle tyd, terwyl die gedruis nog aan die gang is. Die een groepleier praat meteens hard hier voor by die tafel. “Niemand mag oorgeslaan word nie,” beduie sy.


Dit is tóé dat ek die gebons onder by die mense se knieë rond sien. Die groepleier se seuntjie het saam met haar vorentoe getrippel. Sy koppie pas omtrent kniehoogte by die mense rondom hom. Hy hop op en af van opgewondenheid. “Mamma! Mamma!” roep hy. Maar Mamma hoor nie. Sy het delegering om te doen.


Vir ʼn rukkie staan die outjie doodstil en hy loer na die klein nagmaalsglasies wat sy ma bokant sy kop uitdeel. Sy mond hang eers vir ʼn rukkie oop. Dan ontluik ʼn glimlag stadig totdat sy mondhoeke sy ore bereik. Sy oë begin skitter. Die wit mieliepittande blink saam en hy steek sy een hand uit.


Tussen al die geharwar kry hy uiteindelik ook sy eie glasie. Die gebons hou op, want hy besef dat hy nou die kosbare inhoud in die klein glasie moet oppas. “Mamma!” roep hy weer. Weer eens hoor Mamma nie. Sonder dat sy dit besef, laat sak sy haar een hand met haar eie glasie wyn, terwyl sy die houer met die glasies met haar ander hand neersit.


Dit is die geleentheid waarvoor die opgewonde outjie gewag het. Versigtig steek hy sy glasie nagmaalsap na sy ma se hand toe uit. Saggies kap hy sy glasie teen hare. Net hard genoeg sodat ek dit kan hoor, sê hy: “Cheers!” Voetjie vir voetjie skuifel hy terug na sy stoel toe. Ek sien nie hoe hy sy glasie sap drink nie, want hy verdwyn agter ʼn spulletjie ander knieë voordat dit gebeur.


Dít is die tipe vreugde wat nagmaalwyn vir my behoort te bring, reken ek, want kinders en suigelinge vertel van God se redding en grootheid. God sorg, selfs wanneer ma’s en pa’s nie kans het om te kyk nie. God se sorg laat jou oë fokus op die genade, al is jy maar kniehoogte en die enigste een wat op- en afspring.


Mag ek en jy elke dag sê “Cheers!”, omdat ons te midde van chaos en onrustigheid raakgesien word. En omdat selfs die kleinstes onder ons dit al kan raaksien.


Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. - Psalm 8:3