Sampioene
top of page

Sampioene


Ek is baie lief vir sampioene. Een van die mooiste geluide in die kombuis, is die ptsjhhhhh-geluid wat opgekerfde oestersampioene maak wanneer hulle die warm pan se bodem tref. My liefde vir sampioene het veroorsaak dat ek ʼn spesiale emmertjie aangeskaf het waarin ek kweekmedium, soos strooi, moet sit. Ek moet met groot geduld en afwagting deur ʼn hele proses gaan om uiteindelik die vrug van die organisme te kan geniet: die sampioen self.


Dit is nogal ʼn leerervaring om self sampioene te kweek.


Die éintlike organisme groei onder die groeimedium. Heeltemal onsigbaar. Dit is ʼn hele ingewikkelde netwerk van swamme wat jy nie kan sien nie. Dit wat jy uiteindelik oes, is tegnies net die vruggies daarvan.


Ek het ook ʼn botteltjie met suurdeeg. Die suurdeeg se naam is Frikkie. Frikkie moet gesond gehou word. Een van die maniere hoe die suurdeeg (ook deels ʼn swam) gesond bly, is om te sorg dat Frikkie gereeld gebruik of verminder word. Anders gaan hy dood of raak siek en maak dan minder lekker brood.


My sampioene en Frikkie het my aan die dink gesit. Selfs my vetplante, wat af en toe uitgedun moet word om gesond te bly, gesels saam.


Ons gooi deesdae woorde soos “individuele regte” en “kudde-immuniteit” rond. Maar daar is iets aan swamme en suurdeeg wat baie hard met ons praat hieroor. Ek sien dieselfde beginsel in die vroeë kerk raak. Frikkie sê dat die lewe nie net oor jouself gaan nie. Hy reken dat ʼn mens soms jou eie lewe vir iets groter as jyself prysgee. Die sampioene stem saam. Hulle reken dat jy werk en groei en jou beste gee, sonder dat jy gesien hoef te word. Wanneer die groter liggaam iets regkry, soos om sampioenvruggies aan die lewe te skenk, is almal bly.


Die Japannese het selfs ongeveer twintig jaar gelede ʼn eksperiment hieroor uitgevoer. Hulle het “slime mold” by die opening van ʼn doolhof geplaas. Aan die ander kant van die doolhof is ʼn voedselbron geplaas. Die swamme het oral by die doolhof ingegroei en terselfdertyd begin sterf, totdat dit uiteindelik by die voedselbron aan die ander kant van die doolhof uitgekom het. Ewe skielik het die swam floreer tot by die beginpunt van die doolhof. Die swam kon dit slegs regkry as daar dele van die organisme was wat bereid was om in die doodloopstrate te sterf, sodat die voedselbron uiteindelik gevind kon word.


Hebrëers 12:1-3 vertel van ʼn groot skare geloofsgetuies rondom ons. Daardie geloofsgetuies is die gelowiges wat reeds gesterf het, sodat die kerk kan voortgaan om te getuig. Die liggaam van Christus bestaan uit individue wat besef: ons is nie alleen nie. Ons is nie hier vir onsself nie. Ons is deur die liefde van Jesus aan mekaar verweef, soos ʼn fyn netwerk wat nie altyd gesien kan word nie. Maar net omdat jy dit nie altyd kan sien nie, beteken nie dit is nie daar nie.


Heb. 12:3: “Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.”

bottom of page