top of page

Saam-saam, eerder as een-alleen


Twee is beter as een, vertel die Prediker vir ons. Hy skryf in Prediker 4:9 - 12 dat wanneer twee mense saam is en een van hulle val, dan kan die ander een hom ophelp. Of as twee mense langs mekaar slaap, kan hulle mekaar warm hou. Twee kan ook beter weerstand bied, as hulle aangeval word. Uiteindelik kom die Prediker dan tot die gevolgtrekking dat ’n driedubbele tou nie maklik breek nie. Kortom, hy leer ons dat ons nie gemaak is om alleen deur die lewe te gaan nie. Ons het mekaar nodig.


In die filmwêreld mag die helde dalk die wêreld man-alleen of vrou-alleen red, maar ons is definitief nie hulle nie. Ons is nie gemaak om alleen te wees nie. Of om die ganse wêreld se laste op ons eie skouers te dra nie. Of om die antwoord op elke krisis te wees nie. Die Here het ons geskep om daar te wees vir mekaar. In Genesis 2:18 het Hy reeds gesê dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Van die begin af het Hy ons gemaak vir saamwees. Ons kan en moet minstens die volgende vir mekaar as gelowiges, familie, vriende en vreemdelinge doen:


* Ons moet mekaar se laste dra. Paulus skryf in Galasiërs 6:2: “Laai mekaar se swaarkry en seerkry op julle skouers. So leef julle volgens die wet, wat Christus vir julle gegee het.”

* Ons moet mekaar se vreugdes en swaarkry deel. Paulus skryf in Romeine 12:15: “Wees baie bly saam met almal, wat baie bly is. Huil en treur saam met elkeen wat huil en treur.”

* Ons moet mekaar help wat lewensmiddele betref. Johannes skryf in 1 Johannes 3:17-18: “Sê nou iemand het genoeg om van te leef en sien sy mede-Christen in die nood en kry hom nie jammer of help hom nie, hoe kan hy waag om te sê dat die liefde van God sy lewe beheers? My liewe kinders, julle liefde moenie bestaan uit ‘n klomp gepratery nie, maar uit dade, wat in ware opregtheid gedoen word.”

* Ons moet kies om goeie vriende vir ons vriende te wees, en om betrokke te wees by ons kerke. Om te wag op ander mense om die eerste tree na ons toe te gee, is nie hoe dit gedoen moet word nie. Omgee en uitreik begin altyd by onsself.

Comments


bottom of page