Respek (of eerder ‘n verlies daaraan)
top of page

Respek (of eerder ‘n verlies daaraan)


Lees gerus Liezel Lüneburg se nuutste My Lewe nuusbrief waar sy skryf oor die belangrikheid van en hoe respek lyk.
Respek (of eerder ‘n verlies daaraan)

Ek wonder die laaste ruk oor respek. Seker maar omdat respek so dun gesaai is in ʼn samelewing, waar ons daagliks gekonfronteer word met erge misdaad, korrupsie, lippetaal sonder konstruktiewe optrede, rassehaat, xenofobie en nog meer as wat enige mens kan verduur. Volg maar net die skokkende getuienis voor die Zondo-kommissie en dit is genoeg om enige gevoelens van respek te blus.

Die woorde “respekteer” en “respek” kom maar net twee male in die 1983-vertaling van die Bybel voor en nie ‘n enkele keer in die 1933/1953-vertaling nie. In 1 Petrus 2:17 skryf Petrus: “Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.” Die ander verwysing is in Levitikus 19:32.


Hierdie gedeeltes illustreer dat respek twee kante het: die manier hoe ons voel oor ‘n ander persoon en die manier hoe ons dieselfde persoon behandel. Die eerste is ‘n gevoel, wat die klem op die ander persoon se optrede plaas. Die tweede is ‘n werkwoord, wat my optrede teenoor ‘n ander beklemtoon. Eersgenoemde is ‘n onderwerp vir ‘n ander dag - ek wil eintlik uitkom by optrede.


As ek ander met respek behandel, sê dit iets van my goeie kwaliteite, van my ingesteldheid en van die bril waardeur ek na God se ander skepsels en kinders kyk. As dit iets positiefs van my sê, raak Jesus Christus veel duideliker in my optrede en word Sy koninkryk bevorder deur die manier hoe ek Sy voorbeeld uitleef. Christus het ander mense tog sonder uitsondering met respek behandel, selfs Sy vyande en kwaadpraters.


Dit is natuurlik glad nie genoeg om ander net met respek te behandel nie. ‘n Christen wat die vrugte van die Gees dra, moet tog ook oplet na hoe hy of sy van ‘n ander praat. Jakobus 3 verwoord ʼn skreiende waarneming: “Met die tong loof ons die Here en Vader en met die tong vloek ons die mense, wat as die beeld van God gemaak is.” Hierdie woorde ruk aan my hart - almal van ons misbruik ons tonge om brand te stig …


Ek gaan in die vervolg oplet na hoe ek optree teenoor en praat van ander mense, nie net tot voordeel van die koninkryk of my eie heil nie, maar ook om my kinders te leer hoe ʼn Christen optree. Verder is dit ook so dat ons optrede óf die gaping tussen mens en God verbreed óf die band versterk.


Dit is tog laasgenoemde wat Hy en ek ook wil hê, nie waar nie?

bottom of page