top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Raak geduldiger


Geduld gebeur nie spontaan vir die meeste van ons nie. Om geïrriteerd te wees is ’n baie makliker opsie. Geduld is hier in ons dag so skaars as wat kan kom. Ek wens ons almal kon wegkom met die verskoning dat dit ander mense se skuld is dat ons so sukkel met geduld. Die res maak dit regtig vir ons moeilik om geduldig te wees. Maar ons kan nie. Die Here vra geduld van ons elkeen. Daarom moet ons dit gedurig van Hom afbid. Daarna moet ons dit aanhoudend inoefen.


Ons oefen geduld in wanneer ons stilbly as die humeure rondom ons opvlam…


En wanneer ons nie skerp reageer teenoor elkeen wat ‘n bal laat val nie…


En wanneer ons minder kere klipharde standpunte inneem…


En wanneer ons nie ons temperatuur opjaag oor dinge waaraan ons niks kan verander nie…


En wanneer ons nie gedurig tob oor almal wat ons omkrap nie…


Ook dank die Heer vir elke nuwe stukkie geduld wat in ons lewe vorm aanneem. Ons eer Hom hiervoor. Daarna kies ons nogmaals om geduldig te leef tot Sy eer.

תגובות


bottom of page