Persoonlike geestelike ervarings is nie waaroor dit gaan nie
top of page

Persoonlike geestelike ervarings is nie waaroor dit gaan nie



Dis jammer dat daar in verskillende groepe ‘n skeiding tussen die Gees se werk en ons denke bestaan. Vir hulle beteken Paulus se uitsprake hier in vers 15-17 oor gebed in my gees dat hierdie “dieper geestelikheid” eintlik teenoor my verstand staan. Om oor God te dink en Sy wil na te speur, is hiervolgens eintlik maar nog net die beginstadia van geloof. Eintlike geloof is daar waar die Gees oorneem en ek in geestesvervoerings raak of in my gees bid. Die punt is dat hierdie innerlike ervarings in my gees nie belangriker is binne die groter prentjie van kerkwees nie. Die eintlike “groot” gelowiges is diegene, wat juis hul eie geestelike ervarings ter syde stel ten einde ander gelowiges op gewone maniere te dien.


In ons dag val die klem binne die kerk merendeels op persoonlike geestelike ervarings, en nie soseer op die opbou van ander gelowiges nie. Luister maar na getuienisse, of lees wat geestelike boeke die graagste beskryf, of die verhale wat predikers vertel - dan gaan dit oor persoonlike geesteservarings en nie oor die opbou van ander gelowiges, wat in die soeklig staan nie. Volgens Paulus is jy en ek besig om die eintlike punt te mis, as ons ons eie geestelike groei ten koste van medegelowiges bevorder. Ons groei juis nie as ons dink dat al ons bonatuurlike geestelike ervarings die in-ding is. Dit maak ons nie meer spesiaal as ander Christene nie.


Gebed:

Laat ander mense groei in hul geloof deur hul kontak met my, heilige Heer. Amen.

bottom of page