top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Pas op vir die vlak kant!


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld oor die gevaar van in ons vlak kant te leef van ons geloof.
Pas op vir die vlak kant!

Die vermoë om te onderskei tussen fake news en dit wat eg is, waarheid en leuen, goeie inligting en nonsens, het ‘n uiters belangrike vaardigheid geword. Dis soms uiters moeilik om jouself te navigeer tussen al die informasie, wat goed en reg klink, maar wat heel moontlik ‘n twyfelagtige oorsprong het. Daar is egter een tendens, wat ek oor en oor waarneem en dit is dat mense (soos ek!) so maklik luister na die groepe en stemme, wat die grootste lawaai maak, die hardste praat en die grootste platforms op sosiale media het. Dit geld ook vir mense wat die sterkste in vergaderings oorkom, die persoon, wat altyd ‘n opinie het en mense op sleeptou probeer neem om veld te wen.


Daar is egter ‘n eenvoudige beginsel, wat ons kan help om versigtiger te wees. Dis een sinnetjie wat so eenvoudig is dat dit self simplisties of bevooroordeeld klink. Ek lees hierdie kompakte sinnetjie nou die dag raak:


Die grootste lawaai in ‘n swembad kom meestal van die vlak kant af.


Die vlak kant is waar die energie op sy hoogste is en die geraas soms oorverdowend is. Dis gewoonlik waar die kinders speel.


So ook in die alledaagse lewe: Wees versigtig vir die mense wat oorverdowend hard is. Wees versigtig vir mense wat kwaad is, of wat uit emosie reageer, selfs al probeer hulle dit wegsteek. Want waar mense rant en rave, kan jy maar weet dat die emosie hoog en die redelikheid laag is. Selfs al klink die tirade intelligent, verteenwoordig dit waarskynlik ‘n oppervlakkige verstaan van die situasie. Die waarheid is waarskynlik nie hier te vind nie.


In hierdie lig is dit tog interessant dat God nie met ‘n groot lawaai die geskiedenis binnegekom het nie. Die geboorteplek vir Sy Seun was nie die besige Rome nie, selfs nie eers Jerusalem nie, maar stil-stil in Betlehem, ‘n klein, onbelangrike dorpie suid van Jerusalem. God het sy Seun nie laat groot word in ‘n belangrike metropolitaanse stad, soos Alexandrië of Antiogië nie, maar in Nasaret, ‘n klein obskure nedersettinkie, wat so onbelangrik was dat dit nie eers genoem word in die meeste aardrykskundige geskrifte van die omgewing nie. Hy red ons nie deur op ‘n wit perd in te ry en ons almal te verlos uit die hande van die Romeine nie - Hy sterf eensaam aan ‘n kruis. Selfs die wonderwerk van sy opstanding was nie met ‘n aankondiging deur ‘n orkes nie, maar was aanvanklik onopsigtelik deurdat Hy bloot saam met twee reisigers stap op pad na ‘n klein dorpie met die naam Emmaus.


En tog... tog was die Waarheid in Hom te vind. Soms kom die waarheid sag, onindrukwekkend onopsigtelik en nederig na ons, sonder ‘n groot lawaai.

Comments


bottom of page