Orals en altyd
top of page

Orals en altyd


Lees Johannes 4:23


Iemand vra onlangs vir ‘n vriend van my waar’s een of ander kerk. “Sien jy die dame wat daar in die koffiewinkel sit?” vra hy. “Sy’s ‘n volgeling van Jesus. As jy die kerk soek, gaan praat met haar!” Aangrypend! Te veel mense se eerste assosiasie met die woord “kerk” is met kerkgeboue, nie met diegene in daardie geboue nie.

Ek’s glad nie teen kerkgeboue nie. Allermins. Maar ek weet kerkgeboue is niks heliger as enige ander plekke nie. In Johannes 4 het Jesus aardse heilige plekke oorbodig verklaar. Die Gees se koms bevestig dit vir my. Daarom skryf Paulus drie keer in die Korintiërbriewe dat God nie in geboue van klip en steen woon nie, maar in menslike tempels. Volgelinge van Christus is nou sy voltydse aardse adresse. God is dinamies. Hy is aan die beweeg. Daarom dat elkeen Jesus navolg sy nuwe adresse is.

Kerkgeboue se funksie is om Sondae, wanneer die lewende huise van die Here daar besoek aflê, in simfoniesale te verander waar God geloof word. Dit moet dan gimnasiums wees waar mense se geloof versterk word. En dit moet ook as hospitale dien waar beseerdes se wonde deur die Gees verbind word. Maar kerkwees hou volstoom aan wanneer gelowiges gedurende die week in die Here se diens staan. Alle gelowiges is voltydse geroepenes in die Here se aktiewe diens.

Gebed

Waai, Wind van die Gees, waai ons die hele wêreld vol. Amen

bottom of page