• Stephan Joubert

Oppas vir “the look”


Oppas vir “the look”

Ons almal ken dit. Ek praat van daardie kyk! Of soos wat die Engelse dit noem: “the look!” Dit is wanneer iemand jou middeldeur kyk. Of jou stukkend kyk. Of jou vuil kyk. Of jou aanstaar. Of jou op en af kyk. Of jou uitkyk. Die Franse denker, Jean Paul Sartre, het gesê sulke kyke bring ’n diep verleentheid, “a sense of shame,” oor jou. Jy weet sulke kyke beoordeel jou. Dit weeg jou. Jy voel dikwels dan of jy wil weghardloop. Daarom is ek my pa steeds dankbaar omdat hy vir my ’n groot waarheid geleer het in my kinderdae. Hy het vir my gesê ons gaan nie kerk toe om mense uit te kyk nie, maar sodat God ons kan uitkyk. Ook staar ons nooit mense aan nie. Ons hou ons kyk vir onsself.


Ek is die Here ook ewig dankbaar dat Hy sy manier van kyk na ons as sy kinders verander het. Ja, daar was ’n tyd toe Hy al wat ’n sonde is raakgesien het. Dit het sy hart stukkend gebreek. So vertel Genesis 6:5. Dit sê dat toe God al die verdorwenheid van die mensdom raakgesien het, het Hy berou gehad dat Hy mense gemaak het. Maar God het intussen baie duur betaal om weg te kyk. Hy het alles opgeoffer om vars te sien en om nuut te sien. Ek praat van Jesus se kruis. Dit het God se ganse visie verander. Hy kyk nou permanent hierdeur na sy mense. God het nou perfekte kruis-visie. Daarom is Sy kyk na ons as sy kinders sag. Nee, Hy kyk nie ons oortredings mis nie, maar Hy kyk deur Jesus se kruis wat vergifnis vir ons bied… en nuwe lewe. Nou kyk God ons aan in liefde. O, ja, ons benodig ook die Here soort kyk. Ons moet ander deur die kruis raak-kyk. Genadiglik het Jesus hemelse oogsalf beskikbaar vir ons wat ons kyk kan verander (Openbaring 3:20). Dit is verniet. Gebruik dit elke dag, dan wen “the look” nie in jou lewe nie.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: