top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Oppas vir oorbekendheid met God


Ons kan maklik oorbekend met die Here se dinge raak. Dit geld ook vir ons eie gebede en ons kerklike samekomste. Ons kan maklik “outomaties” bid, Bybel lees en kerk toe gaan sonder om dit intens te ervaar. Ons raak gerieflik afgestomp in die midde van al ons godsdienstige aktiwiteite. Ons raak “comfortably numb”,soos wat Pink Floyd binne ’n ander konteks gesing het. Dieselfde tipe gebede, preke, liturgieë en geestelike liedere is later so oorbekend aan ons dat ons dit outomaties en onnadenkend beoefen.


Om oorbekend met die dinge van die Here te raak, kan aanleiding gee tot ’n stuk tradisionalisme in ons lewe. Dit kan tot gevolg hê dat ons selfs ons oorbekende kerklike gebruike verhef tot die enigste korrekte maniere om die Here te dien. Daarom moet ons voortdurend sorg dat ons nooit gewoond raak aan die dinge van die Here nie. Voordat jy my verkeerd hoor - natuurlik het ons gesonde en gereelde geloofsdissiplines nodig, soos ’n getroue persoonlike gebedslewe en gereelde kerklike samekomste. Ons het nodig om ons geloof deurentyd in te oefen. Maar ons mag nooit ons eie verwondering en eerbied vir die Here verloor nie. Of ons kinderlike geloofsvertroue in Christus nie. Ons mag nooit so oorbekend of tuis met Hom raak dat Hy ons nie meer kan verras nie.

Comments


bottom of page