Oppas vir die verkeerde hoofpaaie!
top of page

Oppas vir die verkeerde hoofpaaie!


Om ruimte te gee vir dieselfde tipe gevoelens, gedagtes en gedrag in jou lewe, skep hoofpaaie daarvoor in jou kop. Jou brein leer dan letterlik om alle informasie langs hierdie bane te stuur. Anders gesê, deur die aanhoudende herhaling van dieselfde denke, emosies en gedrag vorm vaste gewoontes in jou lewe. Bestaande neuroroetes in jou kop wat egter nie gebruik word nie, krimp en verval in onbruik. Navorsers praat hier van die sogenaamde“use it or lose it”-verskynsel.


As dit waar is dat jy ook verantwoordelik is vir al die hoofpaaie in jou kop, dan moet jy seker maak dat negatiewe of sondige patrone nooit daar vestig nie. In 2 Korintiërs 10:4-5 skryf Paulus dat jy gedurig sulke gedagtes, wat nie tot eer van God gebeur nie, moet arresteer. Jy moet doelbewus en aanhoudend wegskuif van negatiewe en destruktiewe gedagtepatrone af na Christus toe. Laat toe dat sulke paaie in jou brein krimp en atrofeer. Kies die Here se roete van doelbewuste nuut dink en nuut doen. Dit sal maak dat jy nie opeindig tussen diegene oor wie Paulus in Efesiërs 4:17-19 skryf in wie se koppe daar niks goed gebeur nie.

bottom of page