Oppas dat stereotipes jou lewe oorneem
top of page

Oppas dat stereotipes jou lewe oorneem


Iemand vertel nou die dag op ‘n openbare platform dat ’n bekende filmster arrogant is. Hierdie ster het geweier om met ’n jong meisie te praat, terwyl hy saam met iemand geëet het. Sy het ongevraagd afgestap op die ster en haar selfoonnommer in sy hand gestop. Hy wou egter nie haar selnommer aanvaar nie. Nou is daardie “Top Gunner” blykbaar ongeskik op grond van een insident. Toe ek dit lees, dink ek by myself dis presies hoe stereotipes gevorm word. ’n Enkele interaksie met iemand anders is genoeg om ’n permanente opinie oor hulle te vorm. ’n Studie oor stereotipes, wat ek een keer gelees het, het juis bevind ons vorm reeds tussen drie tot twintig sekondes ’n eerste opinie oor mense, een wat lewenslank vir of teen hulle kan tel.


Stereotipes, wat nie hokgeslaan word nie, verander spoedig in lewenslange vooroordele. Daarom skuld jy en ek ander mense gedurig ’n beter, tweede opinie. Ek bedoel hoe Jesus van ons verwag om na hulle te kyk. Hy verwag meer van ons as om mense in ‘n hoek vas te verf waaruit hulle nooit kan ontsnap nie. Hy vra van ons om ons negatiewe eerste indrukke altyd in die regte lig te sien - Syne! Ons mag nie mense omraam aan die hand van een skewe woord, een misstap, een fout, of een stukkie nalatigheid aan hulle kant nie. Ons skuld hulle altyd ’n tweede kans én ’n derde kans én selfs ’n twintigste kans. Hoekom? Want die Here begin elke dag oor en voor met ons. Hy hou nie gister en eergister se verkeerde dinge teen ons nie. Hy hou nie vir altyd boek van ons oortredings nie. Hy aanvaar ons elke keer onvoorwaardelik, omdat ons in Hom glo en vir Hom leef. Daarom doen ons dieselfde vir ander mense rondom ons. Ons hou hulle nooit gevange aan die hand van een of twee indrukke, wat ons voortydig oor hulle gevorm het nie, net soos wat die Here dit ook nie met ons doen nie.

bottom of page