Op Sy voorwaardes
top of page

Op Sy voorwaardes


In sy nuutste Heilige Gees artikel vra Stephan Joubert op wie se voorwaardes jy God dien?
Op Sy voorwaardes

God is nie in ons diens nie. Hy werk nie vir ons nie. Ons bepaal nooit die voorwaardes van hierdie verhouding nie. Nee, ons behoort aan Hom omdat sy Gees ons eksklusief vir sy diens afgesonder het. Daarom moet ons God dien, soos wat Hy Homself in die Bybel aan ons bekendstel en nie ons eie idees van hoe Hy behoort te wees op Hom projekteer nie.


Gelukkig is ons God ‘n genadige God. Hy boer met genade en deel dit oordadig met ons elkeen in Jesus se Naam. Hy stort sy goedheid in emmers vol oor ons almal uit. Sy rus, Sy vrede, Sy blydskap – dit is ons elkeen se deel, as ons saam met Hom wandel.


Die Here is ons enigste Krag, as ons swak is. Hy is ons Rusplek, as ons moeg is. Hy is ons Hoop, as alles rondom ons hooploos is. God is ons Beskutting, as ons onveilig voel. Hy is die enigste Rede vir ons bestaan. Hy is ons Rykdom en ons Rots. Die Here is ons Suurstof, ons Asemhaling, ons hele Lewe. Die Here is saam met ons in die storm. Hy wandel deur elke donker dal en op elke gelyk pad saam. Hy bly tot anderkant die wenpaal aan ons sy. Daarom dat ons heilige tempels moet wees, wat Hom verheerlik. Daarom dat Hy tuis moet wees in ons aardse huis.


Gebed:

Ek is U aardse heiligdom, drie-enige God en Heer. Heilig my lewe vir Uself. Amen.

bottom of page