Op besoek aan die vreemde Kind
top of page

Op besoek aan die vreemde Kind


Herders was die eerste genooides na Jesus se geboorteplek in Betlehem. Terwyl hulle besig was om hulle skape op te pas, het ‘n engel skielik tussen hulle gestaan en die nuus van Jesus se aankoms met hulle gedeel. Hulle het ook die aanwysings na Jesus se geboorteplek by die engel gekry. Hulle het verneem hulle sou in Betlehem ’n Kindjie in ’n krip vind, wat in doeke toegedraai is. Toe het ’n groot skare engele ook Jesus se aankoms feestelik besing.


Die herders het dadelik vertrek en vir Jesus in ’n eenvoudige voerbak aangetref. Geen koninklike prag en praal het Hom omring nie. Sy eenvoudige aardse geboorteplek het dit duidelik gemaak dat Hy ’n andersoortige verlosser is. Die herders se vreugde het geen perke geken nie. Hulle het besef doodgewone mense, soos hulleself, was die eregaste by die Here se aankoms. Vandag nog word gewone mense, soos ons, genooi om saam te kom fees vier, omdat Jesus na ons toe gekom het. Neem asseblief hierdie uitnodiging aan. Vier vanjaar ’n geseënde Kersfees saam met Jesus.

bottom of page