Ook vir eendag
top of page

Ook vir eendag


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Heilige Gees artikel oor die erfporsie wat ons vir ons kinders agterlaat.
Ook vir eendag

Lees Handelinge 5:42

Ja, natuurlik gebeur geloof hier en nou. Ons sit nie ydel in die kerk rond en wag op beter dae nie. Ons is elke dag besig om aan ‘n geestelike nalatenskap te werk, wat of navolgingswaardig is vir hulle rondom ons en hulle wat ná ons kom, of een wat liefs vergeet moet word.

Ekself wil hê my kinders moet eendag weet hulle pa het die Here met sy hele hart liefgehad en dat die Gees van die Here in hom gewerk het. Hulle moet eendag terugdink en weet dat ek hulle ma met alles in my liefgehad het, soos wat die Heer van my as Geesvervulde man daar in Efesiërs 5 vra. Ook dat ek tyd vir hulle gehad het en dat ek hulle altyd met groot respek en waardigheid behandel het, soos wat Efesiërs 6 van my as Geesvervulde ouer vra. Hulle moet weet dat daar altyd tyd vir lag en gesels in ons huis was. En ja, lekker koffie, lang kuiers en baie tyd vir saamgesels oor wat die Heer in en om ons doen.

Gelukkig het ek vandag nog tyd om te werk aan die regte erfporsie vir my kinders. Gelukkig gun die Hemelse Vader vandag nog aan my die kans om my voetspore op die Gees se rots te plaas, daardie rots wat nie deur die wind van tyd weggewaai word nie.

Gebed:

Gees van God, gee dat my lewe nou en eendag vir U tot eer sal wees. Amen.

bottom of page