Oog op die wenpaal
top of page

Oog op die wenpaal


Lees gerus Alet Gardner se nuutste artikel vir ekerk "Oog op die wenpaal"
Oog op die wenpaal

Omdat ek weet hoedat kleutertjies omkyk-omkyk hardloop, het ek, toe ons jongste aan haar eerste Interhuis moes deelneem, agter die wenpaal gaan staan sodat sy na my kon kyk en reguit wenpaal toe hardloop. Dit het gewerk: hierdie klein meisietjie het voluit wenpaal toe en tot in my arms gehardloop!


Hoe om my oog op die wenpaal te hou?


You need to stay calm and run to the finish line."

So sê Justin Gatlin, ‘n Amerikaanse atleet, wat in die 60, 100 en 200 meter 5 Olimpiese medaljes en 12 Wêreldkampioenskapmedaljes verower het.


Ons seun het as pa van tieners, in ‘n marathonatleet ontpop. Wanneer hy voorberei vir ‘n wedloop, is een van die opofferings, wat hy moet maak, om nie saans laat te gaan slaap nie. Die regte dieet en veral gepaste skoene is van die uiterste belang. So het ek ook die regte geestelike voedsel en toerusting nodig vir my lewensmarathon. ‘n Atleet, wat maande se oefening of selfdissipline ingesit het, kan dit ook nie nou oorboord gooi, as hy hom so vervies vir ‘n mede-atleet en halfpad wegstap van die baan nie! So moet ek ook tydens my lewensmarathon bly fokus op Jesus, wat vir my by die wenpaal wag en gedissiplineerd alles insit, wat my afrigter my geleer het. My afrigter, die Een wat my geroep het vir hierdie lewensmarathon, is Jesus self, wat my o.a. deur persoonlike Bybelstudie en Heilige Gees geïnspireerde lering toerus. Nie eens die wedloop is so belangrik as Hy, wat met liefdevolle afwagting vir my by die hemelse wenpaal wag nie. Dis vir Hóm, wat ek dit doen.


Een van die groot geheime van ‘n wedloop is om te onthou: Oog op die wenpaal en nie op die mede-atleet, wat my onopsetlik (of dalk opsetlik) met die elmboog gestamp het nie. Per slot van sake wag Jesus ook vir my mede-atleet by die wenpaal. Sou my mede-atleet val of die afstand na die wenpaal onderskat, word my Jesus-liefde ook hier sigbaar. Nikki Hamblin en Abbey D’Agostino is ‘n wonderlike voorbeeld van omgee. Hulle het tydens die 2016 Olimpiese Spele in die 5000 meter terwyl hulle hardloop gebots, maar mekaar eers opgehelp en seker gemaak dat hulle mede-atleet reg is, voordat hulle hul resies voltooi het. Hulle het saam-saam laaste by die wenpaal aangekom. Vir hierdie sportmangees het die twee atlete die Olimpiese Spele se seldsame Pierre de Coubertin-medalje ontvang.


“Leadership isn't about winning. It's about bringing people with you to the finish line.” John C. Maxwell


(1 Korintiërs 9:24-27, Hebreërs 12:1-3)

bottom of page