Ontsag wys die Gees is hier
top of page

Ontsag wys die Gees is hier


Lees Handelinge 2:43


Toe die Gees die Jerusalemgemeente oorspoel het, het daar ‘n nuwe leefstyl tussen hulle posgevat. Hulle was van meet af toegewyd aan God en aan mekaar. Hulle liefde vir die Here en ander mense was voelbaar, proebaar en sienbaar. Maar dit was veral hulle ontsag vir God wat soos ‘n paal bo water uitgestaan het.

Nederigheid is ‘n skaars artikel in ons dag. Mense is te vol van hulleself. Godsdiens verander dit nie noodwendig nie. Godsdienstige mense raak soms maar net vol van hul godsdienstige self en van alles wat hulle vir die Here doen. Hoogmoed in godsdienstige kringe is trouens volgens Jesus die heel grootste struikelblok op die pad na ware geestelike groei. Hoogmoed wys selfs in groot godsdienstige aksies soos gebed, vas en die hulp aan armes (Matteus 6:1-18). Pleks dat godsdienstiges hierdie dinge doen om God te eer, gebruik hulle dit subtiel en soms selfs openlik om die aandag na hulleself toe te gelei.


In die Jerusalemkerk was daar nie tyd of plek vir hoogmoed nie. Mense was te vol ontsag vir die Here Self om oor hulleself te bekommer. Sy heiligheid het hulle lewens deurtrek. Daarom het hulle gebuig voor God. Respek vir Hom en al sy magtige dade het hulle leeg gestroop van hulleself en hul soeke na eie eer. Kom leer asseblief vandag by hulle dat Geesvervuldheid leegheid van jouself veronderstel.


Gebed

Heer, stroop my van my selfsug en eersug. Maak my leeg van myself en vol van Uself. Amen.

bottom of page