Ons word dit, wat ons najaag
top of page

Ons word dit, wat ons najaag


Hercule Poirot, die bekende speurder in die skryfster, Agatha Christie, se speurverhale, sê op ’n keer vir iemand:

“Understand this, I mean to arrive at the truth. The truth is always curious and beautiful to seekers after it.”

Inderdaad! Ons word dit, wat ons najaag. Jesus sê met reg dat daar waar ons skat is, daar sal ons hart ook wees. Wanneer ons geregtigheid najaag, sal ons geregtigheid laat seëvier. Wanneer ons goedheid en waarheid najaag, sal ons alles in ons vermoë doen om dit uit te leef. Maar wanneer ons ons oog op verkeerde dinge rig, sal dit kort voor lank op die voorgrond in ons lewe beland.


Paulus roep ons in Filippense 4:8-9 op tot die regte fokus. Kom ons lees dit saam uit die Nuwe Nuwe Testament:


“Alles wat waar is, alles wat eerbaar is en wat respek verdien, alles wat reg is voor God, alles wat rein en opreg is, alles wat vol skoonheid is en wat ons met verwondering vul, alles wat lof en erkenning verdien, ja, enigiets wat uitnemend is op morele vlak en enigiets wat prysenswaardig is – dink asseblief daaraan.

Alles wat julle geleer is en wat julle ontvang het en wat julle gehoor het en wat julle gesien het in my lewe – doen asseblief al daardie dinge. En die God, wat vrede gee, sal by julle almal wees.”

Met alles in ons moet ons hierdie kosbare deugde uit die Heer se hand begeer. Dan sal ons lewe se fokus ook hierheen verskuif. Dan sal ons ewige skatte agternajaag. Sinnelose dinge en verkeerde dinge sal dan plek maak vir ’n lewe, wat vol is van die Here se goedheid. Die Here se waarheid sal dan al hoe meer in ons lewe op uitstalling wees.

bottom of page