• Stephan Joubert

Ons weier dat hoop verlore raak wanneer oorlog opdaag


“I’m fed up to the ears with old men dreaming up wars for young men to die in.”

So het George McGovern gesê. Inderdaad! Ons harte skeur as ons sien watter wreedhede in die Oekraïne gepleeg word. Niemand is ooit wenners, wanneer oorlog uitbreek nie. Die grootste verloorders is uiteindelik al die onskuldiges, wat in die kruisvuur beland. Dit herinner my aan die tragiese woorde van Openbaring 18:22-24, wat vertel hoedat oorlog alle skoonheid vernietig. Dit doof die stemme uit van siters- en fluitspelers. Dit bring ’n einde aan die mooi handewerke van ambagsmense en kunstenaars. Dit verdryf die vrolike stemme van ’n bruidegom en ’n bruid en elkeen, wat saam met hulle feesvier.


Paulus leer ons in Romeine 12:15 om te huil en treur saam met elkeen, wat huil en treur. Ons moet weet en glo elke pleitgebed van ons vir die slagoffers van geweld en oorlog bereik God se genadetroon. Elke traan, elke sent, elke trooswoord en elke uitreik van ons maak ’n klein verskil. Terwyl ons almal op ons eie maniere saam met die slagoffers van oorlog en geweld ly en treur, weier ons ook dat die Here se vlam van hoop ophou brand. Ons weier dat God se feesmusiek uitgedoof word.