Ons moet genadeloos wees met gejaagdheid
top of page

Ons moet genadeloos wees met gejaagdheid


“Ruthlessly eliminate hurry from your life.”

Dis wat Dallas Willard vir John Ortberg gesê het. Dallas was ‘n geestelike mentor vir talle geestelike leiers regoor die VSA. Hy was ‘n legende in terme van die tydlose wysheid en laserfyn insig, wat hy in die dinge van die evangelie gehad het. John het hom gebel met die vraag: “Wat kan ek doen om in my tyd en era my verhouding met God te verdiep?”


Dallas het hom verseker dat daar slegs een ding is wat hy kan doen, naas dat hy hom verbind om Jesus te leer ken, die Bybel lees en gereeld bid. Slegs een ding.


“Ruthlessly eliminate hurry from your life.”

Niks meer nie. Niks minder nie.


Daar is geen belangriker advies vir vandag nie. Die evangelie is relasioneel. Dit gaan oor verhoudings en verhoudings gebeur stadig. Daarvoor het jy tyd nodig.


Wat my opval in Dallas se sinnetjie, is nie bloot dat ons moet probeer wegdoen met gejaagdheid nie. Nee, die beskrywende woord, net voor “eliminate”, is “ruthlessly.”


Genadeloos. Gewetenloos.


Ons moet genadeloos wees met gejaagdheid. Ons moet dit geen verskoning gee nie, geen plek aan die tafel gee nie, ons moenie flankeer met die gedagte nie. Gejaagdheid kan so gevaarlik vir ons geestelike lewens wees.


Let wel dat dit nie hier sal help om onnodig skuldig te voel oor dinge, wat ons nie kan verander nie. Daar is egter dinge, wat ons wel kan doen om sake te verander. Dis die dinge waarop gefokus moet word.


Hoe sal so ‘n poging lyk? Hoe sal dit lyk as ons gejaagdheid genadeloos soos onkruid probeer uitroei? Ek kan aan ten minste vier dinge dink.


1. Eerstens moet dit vanuit ons Christus-verdiende identiteit gedoen word. Ons identiteit word dus nie in prestasie gevind nie. Dit word ook nie deur die opinies van ander beïnvloed nie. Ook nie deur druk, wat familie of vriende op my plaas nie. My rustigheid lê by God alleen.

2. Dit sal beslis moeite verg. Niks wat die moeite werd is, kom ooit maklik nie. Dit sal opofferings en moeilike besluite verg.


3. Dit sal seer sekerlik onpopulêr wees. Mense mag ons dalk snaaks aankyk. Vriende mag voel dat ons nou nie meer in ritme met die samelewing is nie.


4. Ons moet verwag om die verlies te voel, veral aan die begin. Ons sal ly aan FOMO (fear of missing out). Dit mag aanvanklik vir ons voel (soos Adam en Eva in die tuin) dat sekere lekker goed ons ontneem word. Ons moet FOMO dus vervang met JOMO (joy of missing out).


Dalk word ons verras met die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

bottom of page