top of page

Ons lewe: ‘n Voorbeeld


“Let no one ever come to you without leaving better and happier. Be the living expression of God's kindness - kindness in your face, kindness in your eyes, kindness in your smile.” - Mother Teresa

Die Spaanse eiland, Ibiza, het 'n reputasie vir sy wêreldbekende naglewe – 'n gewilde partytjiebestemming. Maar tussen al die klubs, kroeë en restaurante is daar 'n klein Engelssprekende kerk, wie se vrywilligers deur die nag die dronk partytjiegangers, wat hulp nodig het, ondersteun en met hul gesels.  Hulle is onbewus of hulle enige impak maak. Totdat hulle ‘n e-pos van een van die deurwagte van ‘n klub gekry het. Hy het hulle van ‘n afstand dopgehou, maar nooit met iemand van die span gepraat nie. "Ek het die hele seisoen spandeer net om te kyk wat julle doen. Dit het my aangespoor om, toe ek terug in Engeland is, uit te vind wie en wat hierdie Jesus is van wie julle praat en vir wie julle werk." Hy het tot bekering gekom en was besig om self as predikant te studeer.


Ons almal het bewustelik en onbewustelik ‘n invloed op die mense om ons, op ons huisgesin, kollegas, bure, familie. My woorde en dade het ‘n impak op ‘n wêreld, wat met kritiese oë na my lewe as Christen kyk – ‘n wêreld wat deurlopende, konsekwente, liefdevolle Jesus-optrede van my verwag.


Hierdie invloed hang af van wie ek is: Is ek geanker in Christus en weerspieël my lewe iets van die liefde van Jesus? Ek kan egter nie Jesus vir die mense om my wys as ek nie tyd spandeer om die beginsels in Sy Woord te leer ken nie. Wanneer ek dan beheer oorgee aan die Heilige Gees, kan ek hierdie beginsels in my daaglikse lewe begin toepas en sal die vrug van die Gees in elke area van my lewe sigbaar word. 


So sal ek al hoe meer soos Hy word en sal ek Hom as’t ware aan mense om my kan uitdeel. Ek sal vrygewig wees met dit wat ek ontvang het, ‘n oop hand en deernis hê vir dié wat swaarkry. Dié wat elke dag my pad kruis, sal ek met respek behandel – die petroljoggie of kassiere, die deurwag of winkelassistent.


 Wanneer ek Jesus so vrylik uitdeel, sal die mense, wat my van ‘n afstand af dophou, ook dalk van my kan sê, soos die diensmeisie aan Petrus gesê het: “Waarlik, jy is ook een van hulle; want jou spraak verraai jou.” Nie net my spraak nie, maar ook my konsekwente liefdevolle, Geesvervulde optrede sal wys dat ek ‘n dissipel van Jesus is. Dit sal ‘n impak hê op elkeen met wie ek te doen kry.  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matteus 5:16 AFR83)

Yorumlar


bottom of page