top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Ons is nie godsdienstige toneelspelers nie


Hoekom leef ons reg? Vir wie doen ons dit? Ek het vir ’n oomblik hieroor gewonder, toe ek lees hoe ‘n oorsese skrywer in ‘n boek oor evangelisasie sê geloof gaan oor “a way of living openly, engagingly, virtuously and therefore beautifully before a watching world”. Toe wonder ek of dit beteken ons is gelowige akteurs op ‘n wêreldse verhoog, wat gedurig ander se oog moet probeer vang? Stel die wêreld regtig so baie belang in ons manier van leef? Of wil hulle ons eintlik maar net uitvang, as ons iets verkeerd doen? Wil hulle maar net party gelowiges se skynheiligheid as rookskerm vir hulle eie onheiligheid gebruik?


Jesus sê in Matteus 5 ons moet ons lig so laat skyn dat ons goeie werke orals sigbaar word. Hy gee egter ook die regte rede hoekom ons dit moet doen: Ander mense moet God se goedheid in en deur ons raaksien. Dit gaan dus oor Hom, wat die eer moet kry, nie oor onsself nie. Ons leef reg omdat ons die Here liefhet. Ons leef reg, omdat ons ander mense respekteer en met die Here se liefde dien. Ons leef reg, omdat dit ons diepste innerlike oortuiging is. Ons doen dit altyd en orals. Ons leef reg wanneer ons stoksielalleen is, maar ook wanneer ons tussen ander mense is. Ons leef reg, wat ook al die impak (of gebrek daaraan) is. Dan laat Christus Sy lig op die regte maniere in en deur ons skyn.

Comments


bottom of page