top of page

Ons bou nie ons lewens in ‘n fabriek nie


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief oor hoe ons lewens deur God aanmekaar gesit word en hoe ons beplan.
Ons bou nie ons lewens in 'n fabriek nie

Ons lewe is nie ’n produk wat iewers in ‘n fabriek op ‘n vervoerband aanmekaar gesit word nie. Ons ontwerp dit nie haarfyn op ‘n tekenbord, en daarna bou ons dit stelselmatig van hierdie plan af nie. Ons lewens speel af in die regte lewe. Ons het al baie kere beleef ons maak ons planne, maar dan gebeur daar onvoorsiene dinge op die lewenspad. Daarom weet ons dat ons met God moet rekening hou.


Jakobus 4:13-17 waarsku teen ‘n leefstyl wat met oordadige selfversekerdheid uitgewerk word tot wie weet waar in die toekoms. Hy sê ons moet eerder sê: as God wil en ons leef, dan sal ons dit of dat met ons lewe doen. “Deo Volente” - as God wil! So klink wysheid - ook in hierdie dae.


God is ons Hemelse Vader. Hy wys vir ons in sy Woord hoe ons moet leef. Hy vra dat ons Hom sal liefhê en dat ons Hom sal vertrou. Hy wat sorg vir die veldblomme en vir die voëls (Matteus 6:25-33) sorg ook vir ons. Daarom dat ons nie net die Here se goedkeuring soek vir ons eie besluite wanneer ons “dringende hemelse advies” benodig nie. Daarom dat ons nie die argitek van al ons lewensplanne nie. Daarom dat ons ook nie gedurig eienaar-bouer van ons eie lewe speel nie. Ons vertrou die Here se Gees hiermee. Ons vertrou Hom as Bouer en ook Binnehuis-Versierder van ons lewe. Ons God se wil oorroep al ons planne. Nog meer, dit maak dat God se plan ons s’n is.

Comments


bottom of page