Onder permanente bearbeiding
top of page

Onder permanente bearbeiding


Lees Johannes 14:15


Wat ‘n belofte gee Jesus nie hier in Johannes 14 oor die Gees nie. Hierdie aardskuddende woorde volg kort voor Sy lyding en dood, wanneer Jesus Sy dissipels eenkant onderrig. Jesus maak dit eerstens duidelik dat Hy met die Vader self sal gaan praat om die Gees na alle gelowiges toe te stuur. Dis Sy waarborg aan Sy volgelinge kort voor Sy lyding en Sy vertrek hemel toe.


Die goeie nuus aangaande die Gees se koms na Jesus se hemelvaart is dat Hy hierdie keer vir ewig sal kom bly. Soos wat ons al vroeër vanjaar ook vir mekaar gesê het: wanneer die Gees deur Jesus self oor Sy kerk uitgegiet word, kom Hy om vir altyd tussen ons te wees. Hierdie slag gaan die Heilige Gees nie weer die gebou verlaat nie. Nee, Hy sal Sy aardse handewerk daagliks vergesel tot aan die einde. Nie vir een enkele minuut sal Hy Jesus se aardse eiendom ooit op hulle eie laat nie. Nooit sal Jesus se mense Godverlate wees nie. Moet daarom nie jou gevoelens glo as jy dalk vandag ver van God af voel nie. Dis eenvoudig nie waar nie. Die Gees is by jou. Glo dit met jou kop en jou hart. Moenie, soos vele ander kerkmense, jou onbetroubare emosies as rigsnoer gebruik om God se teenwoordigheid te probeer aanvoel of meet nie. Glo maar net Jesus se woorde. Dis die waarheid!


Gebed:

Ek glo Jesus se woorde dat U by my is, Heilige Gees. Amen.

bottom of page