top of page

Omskep alleenwees in saamwees


Genesis 2:4-25 se skeppingsverhaal vertel op ’n beeldryke wyse vir ons hoe God die eerste mense geskep het. Nadat God die man gemaak het, het Hy agtergekom hy kort dringend ’n metgesel. Dit is hoe een Engelse vertaling die Hebreeuse woord “ēzer”, wat hier in vers 18 gebruik word vertaal. Dit word elders ook as helpervertaal. En soos wat ek altyd vir myself sê: Jy kan net iemand help as jy dit beter as hy kan doen. In elk geval, Genesis 2 vertel dan hoe God uiteindelik ’n vrou geskep het om hierdie rol van helper en metgesel te vervul. As gelyke van die man sou sy hom bystaan en aanvul. Afsonderlik en gesamentlik sou hulle God se beeld weerspieël.


Bo en behalwe huweliksmaats se gemeenskaplike daarwees vir mekaar, moet hulle ook mekaar se alleenheid aanspreek. Die eerste mens se loflied moet steeds weerklink dat die huwelik ’n veilige spasie is, waar huweliksgenote een in siel, gees en liggaam word. Hier moet alleenheid plek aan intimiteit en liefde afstaan. Ook diegene van ons, wat nie in ’n huwelik is nie, het die verantwoordelikheid om eensaamheid orals te verdryf. Die Here vra van ons om mense rondom ons se alleenheid op die regte maniere om te skakel in saamwees en nabyheid. Ons moet vir mekaar as helpers daar wees. Ons moet as goeie vriende, goeie familielede en goeie kollegas daar wees. Dan wen God se nabyheid.

Comments


bottom of page