top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Omgee is ook goeie dade


Het dit jou ook al oorgekom? Jy sit iewers in ’n koffiewinkel, “minding your own business”, soos wat die Engelse sal sê. Dan praat onbekendes langs jou kliphard. Een keer, toe ek juis ’n ongenooide gas by so ’n gesprek was, moes ek ongevraagd aanhoor hoe iemand van peperduur aanbouings by hulle huis, asook van hulle luukse vakansies vertel. Toe vertel die bevoorregte vir haar vriendin (en vir my!) net hierna ook van vriende, wat brandskade by hulle huis gely het. “Ons dink so aan hulle. Ons wens ons kon help, maar ons het nie die geld hiervoor nie,” sê sy. Toe moes ek as ongenooide gas by hulle gesprek behoorlik op my tong byt. Dit het eerder vir my geklink asof sy nie wóú help nie.


Dis maklik om te sê ons dink aan mekaar. Hoeveel keer doen ons egter meer as dit? Neem ons 1 Johannes 3:17 ernstig op dat as die Here se liefde in ons harte bly, dan is ons hande ook oop vir mekaar? Dan doen ons meer as net jammerkry. Wag, dan kry ons mekaar rég jammer deur mekaar se laste fisies te dra. Dan doen ons wat ons kan met dit, wat ons in ons hand beskikbaar het. Al kan ons nie almal help nie, kan ons wel iemand help. Al kan ons nie die wêreld verander nie, kan ons minstens een persoon se wêreld in die Here se Naam verander. Ons hulp is nooit net goeie wense of jammerkry gedagtes nie - dit is ook goeie dade.

Comments


bottom of page