top of page

Omgee


Matt 22:37-40

Ek lees in die Washington Post van die Sielkundige, Richard Weissbourd, wat lesings aanbied aan ouers oor hoe jy jou kind leer om empatie te hê met hulle medemens. Ek was eers ‘n bietjie weggeblaas deur die idee. Hy haal statistiek aan van jongmense en kinders, dat 80% van hulle ouers meer geïnteresseerd is in hulle prestasies en geluk as wat hulle omgee oor hoe hulle kinders optree teenoor ander mense. Die kinders het ook gesê hulle ouers is baie meer trots op hulle as hulle goeie punte behaal as wat hulle sal wees as hulle goed doen in die gemeenskap of by die skool.

Hierdie artikel het my baie laat dink. Is die grootste gebod, nie die van die liefde nie? Is dit nie wat die Here van ons verwag voor enige iets anders nie. Waar het ons verkeerd gegaan? Waar het ons so prestasie gerig geword? Ons lees in Johannes 4:7 en 8 …hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.

Natuurlik moet ons dankbaar wees as ons kinders presteer en goed doen. Dit beteken egter nie dat dit ons motivering word nie. Omgee en empatie met ander is die basiese boustene van ons geloof. Jesus is ons voorbeeld. Hy het nie die kans laat verbygaan om goed te doen aan ander of hulle gesond te maak nie.

Leer jou kinders van kleins af om dingetjies in die huis te doen waarvoor hulle nie beloon word nie. Hulle kan hulle borde kombuis toe dra, wasgoed self in die mandjie gooi of hulle kamers opruim, al is dit nie perfek nie. So help hulle vir mamma en doen hulle goed. Ouer kinders kan geleer word om op te staan vir dit wat reg en verkeerd is. As ‘n maatjie geboelie word, moet hy of sy kan opstaan teen die person wat boelie en sy of haar maat beskerm.

Kom ons leer ons kinders luister na ander se behoeftes sodat hulle kan leer om te gee. So maak ons kinders groot wat moreel stabiel is in ons samelewing. Jesus hou aan ons die groot gebod voor, naamlik die liefde. Hy is ons voorbeeld, hy leer ons telkemale om ons hande vuil te maak, te deel wat ons het, nog ‘n myl te stap, weg te gee wat ons het en ons gasvryheid te deel met ander.

Leer dit vir jou kinders. Wees jy die voorbeeld. Leer hulle weer Godliefdel!


Comments


bottom of page