Om te wees is belangriker as om te doen
top of page

Om te wees is belangriker as om te doen


Ons samelewing is saamgestel uit geweldige doeners. Baie mense se identiteit in hulle eie oë word grootliks bepaal deur wat hulle doen. Dis seker te verstane wanneer ‘n mens in ag neem dat die kultuur, waarin ons leef, ons so leer. Aan die einde van die jaar word baie van ons in besigheidskontekste beloon met bonusse (of nie) gegrond op ons prestasiebeoordeling, met ander woorde, wat ons alles reg gedoen het. Hierin lê daar ‘n verskuilde boodskap dat ons niks is as ons nie doen nie. Selfs in geloofsirkels het hierdie stukkie dwaling ingesluip. Ons uitreike word bepaal deur wat ons gaan doen vir ander, wie ons gaan evangeliseer of vir wie ons prakties gaan help. Ek neem gereeld groepe mense na informele nedersettings toe, bloot om nuwe mense te ontmoet. Die doel is dikwels slegs om nuwe vriende te leer ken en net saam met die mense van die gemeenskap te wees. Mense verloor egter vinnig belangstelling, wanneer hulle agterkom dat daar geen ander agenda is nie en dat ons niks prakties gaan doen nie. Mense vra gedurig wat God se wil vir hulle lewens is, want dan sal hulle weet wat om te doen. Dan is hulle nie baie beïndruk, wanneer daarop gewys word dat God wil hê hulle moet in Jesus glo nie. Ja, ek weet, maar wat moet ek doen met my lewe?


In Batman Begins, die eerste van die bekroonde en stylvolle reeks Batman-flieks deur Christopher Nolan, word daar baie van identiteit gepraat. Tydens ‘n klimaks na-aan die einde van die fliek sê Batman vir Rachel: It is not what’s inside, but what I do that defines me. Dis natuurlik nie heeltemal verkeerd nie. Ons dade is belangrik en Jesus het gesê dat ons aan ons uiterlike vrug herken sal word.


Soos baie ander amper-waar stellings, wat deur ons kultuur gemaak word, is dit natuurlik net een deeltjie van die waarheid. Maar as dit wat ons doen nie vloei uit ‘n lewe van wees saam met God nie, raak ons godsdienstig, soos die Fariseërs en wetties. Dan raak ons innerlike wêrelde toksies en in die lang termyn raak ons terneergedruk en depressief. In die Efesiër-brief leer Paulus vir ons hoe dinamika van ‘n verhouding met die Here en geestelike groei werk. In die eerste drie van die ses hoofstukke gebruik hy byna geen bevelvorme nie - hy gee geen opdragte nie. Hy sê vir die gelowiges wie hulle is, wat geestelik met hulle gebeur het toe hulle tot geloof gekom het, en hoe God in hulle werk. Hy ag dit nodig dat hulle eers sal weet wie hulle in Jesus is, voordat hulle enige iets doen.


Hoofstuk 2:11-22 is veral insiggewend. Slegs in verse 14-17 word daar nege aktiewe werkwoorde gebruik om te verduidelik wat in ons geestelike lewens gebeur. Al nege hierdie werkwoorde het te make met wat Christus reeds vir ons gedoen het en steeds doen (Jesus is ons vrede; Hy het ons een gemaak; Hy het die muur van vyandskap afgebreek; Hy het die Wet tot niet gemaak; Hy het ‘n nuwe mensheid (volk) geskep; Hy het vrede gemaak; Hy het almal versoen; Hy het die vyandskap vernietig; Hy het vrede verkondig).


Dan is daar in dieselfde gedeelte vyf passiewe werkwoorde. Hierdie passiewe het alles te make met wat vir ons gedoen is (Ons is naby gebring; Ons is toegang gegee deur die Gees; Ons is gebou op die fondasie van die apostels / profete en Christus; Ons is saamgevoeg; Ons is saam gebou). Christus tree aktief op. Ons beleef die aksie. Jesus doen. Ons ontvang alles passief. Hy doen alles in ons plek. Ons reaksie is om te wees. Om dus in die eerste plek te wees saam met God, is fundamenteel tot ons lewens, want dan sal ons meer spontaan weet wat om te doen. Dit is wat die kruis beteken.


Jesus doen alles vir ons. Hy red ons en Hy leef nou in ons. Ons werk is om te wees saam met Hom. Die teoloog Eugene Peterson sê ‘n mens se geestelike lewe begin by ‘n required passivity. Dit beteken nie dat ons lewens saam met Jesus passief is nie. Allesbehalwe. In Efesiërs 4-6 praat Paulus van ons aktiewe deelname aan alles, wat Jesus vir ons gedoen het. Jesus het reeds álles gedoen wat nodig is.


As ons egter nie saam met Hom kan wees nie, gaan ons verkeerd doen.


Ons gaan die verkeerde prentjie van God ontwikkel.


Ons gaan lyke agterlaat.


Ons gaan skynheilig word.


Ons harte gaan hard word.


Ons gaan innerlik siek word, met ons geloof en al.


Jesus nooi ons na ‘n lewe saam met Hom. Hierdie is ‘n lewe van wees sáám met Hom: Sodat ons doen en late sin kan maak.


Sodat ons in alles kan weet dat ons bowenal geliefd is.


Sodat ons kan weet dat alles nie van ons afhang nie.


Sodat ons kan ophou om angstig beheer te neem van alles te neem.


Sodat ons verantwoordelik kan leef.


Sodat ons nie oormoeg en siek agterlaat word nie.


Om saam met die gekruisigde en opgestane Jesus se wees, is om onsself in Sy arms te gooi totdat Sy liefde en genade deur ons doen en late gestalte kry.

bottom of page