Om te lewe met die regte gesindheid
top of page

Om te lewe met die regte gesindheid


Helena Smith help ons in haar nuutste My Lewe nuusbrief oor hoe om met die regte gesindheid te leef.
Om te lewe met die regte gesindheid

Ek is ‘n onderwyseres en daarom is ek mal oor Vrydae. O, om net op ‘n Vrydagmiddag ‘n kuier met ‘n vriendin in te haal! Om op ‘n Vrydagaand net luilekker voor die televisie te ontspan! Verlede Vrydagaand het ek koud gekry, daar was beurtkrag, die positiewe Covid-getalle het gestyg en boonop moes ek baie skoolwerk gedurende die naweek doen. Kort voor lank was ek in ‘n swartgallige bui en het oor alles gekla.


Ek het onlangs ‘n aanhaling van Thomas Holdcroft gelees, wat die volgende sê:

Die lewe is ‘n slypsteen. Of dit ons gaan stukkend maal of blink poleer, hang van ons gesindheid teenoor die lewe af.

Dat die lewe jou gaan rondgooi en soms seermaak, is ‘n feit. Hoe jy egter gaan optree en watter gesindheid jy gaan toon, is ‘n keuse. Daar is ‘n legende wat lui dat die gesindheid van jou hart soos ‘n beeldhouer is, wat dag vir dag aan die voorkoms van jou aangesig beitel.


Jesus het in Sy kort lewe op aarde dit nie maklik gehad nie. Hy het egter deurgaans ‘n gesindheid van kalmte en innerlike vrede en liefde uitgestraal.


In Filippense 4: 8 – 9 lees ons: …beplan alles wat waar, eerbaar, skoon, lieflik en lofwaardig is. En leef volgens alles, wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God, wat vrede gee, by julle wees.


Paulus skryf hier dat ons moet aandag gee aan al die dinge, wat God se goedheid weerspieël. Dit gaan daaroor om doelbewus aan goeie dinge te dink, goeie dinge te sê en dit uit te leef. Om ‘n Jesus-gesindheid te hê.


Ons gedagtes kan soms ‘n oorlogsveld wees. Een negatiewe gedagte lei tot ‘n volgende en voordat jy jou kom kry, is jy vasgevang in ‘n bose kringloop. Ek word deur Paulus se uitnodiging aan die mense van Filippi uitgedaag. Ek dink aan die mense naaste aan my, my man, kinders, kollegas en vriende. Watter gesindheid sien hulle by my en hoor hulle positiewe, opbouende woorde uit my mond? Wat het ek hulle hierdie week geleer oor hoe om Jesus te volg?


Gedurende die apartheidsjare in Suid-Afrika het ‘n klein, swart seuntjie eendag saam met sy ma in die straat geloop. ‘n Lang, wit man het by hulle verbygestap en hulle vriendelik gegroet. Die seuntjie wou dadelik weet wie die man was. Wit mense het nie gewoonlik vreemde swart mense op straat gegroet nie. Sy ma het geantwoord dat die man ‘n bekende priester was. “Dan wil ek ook ‘n priester word,” het die seuntjie geantwoord. Die vriendelikheid van ‘n wit priester het daartoe gelei dat die seuntjie, Desmond Tutu, ‘n priester geword het.

bottom of page