top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Om te huil en te lag


Lees Markus 10:45


Soms wil jy net huil oor al die sinnelose geweld en hartseer in die lewe. Jesus het dit regtig gedoen. Hy het op ‘n dag hardop gehuil oor ‘n Godlose Jerusalem, wat geweier het om Hom as die Gestuurde van God te aanvaar. Hy het ook gehuil oor die sinneloosheid van die dood, toe Sy goeie vriend Lasarus gesterf het. Jesus se trane het die hemele in beweging gebring, want God het die dood se hekke net daarna oopgemaak sodat dit ons nie meer vir altyd sal gevange hou nie. Jesus het as die grootste Dienskneg ooit Sy eie lewe in ons plek gegee.


Daar’s nou nuwe lewe aan die anderkant vir elkeen, wat saam met Christus leef. Onthou jy dat ons vroeër vanjaar geleer het dat die Gees presies dit waarborg aan elke navolger van Jesus? Elkeen, wat nou huil en treur, se trane sal daar finaal afgedroog word. Elkeen, wat nou seer het, se pyn sal daar vir altyd genees word. Die fees wag! Nuwe wyn, nuwe feesklere en ‘n helde-ontvangs wink vir die Here se mense. Tel daarom jou kop hoog op en lééf. Laat die Here jou trane afdroog met Sy genadesakdoek. Laat die Gees jou hartsnare met Sy vreugde aanraak. Hy doen dit nou al, as jy Hom net wil toelaat om jou lewe op Christus in te stem.


Gebed:

Stel my fyn in op Christus, o Gees van die Waarheid. Amen.

Comments


bottom of page