top of page

Om ‘n huis te bou


Die kusdorpie, Hemsby in Norfolk, Engeland, het ‘n probleem: huise wat op die sandduine gebou is, loop die gevaar om in die see te stort. Springgety is besig om die sanderige kuslyn weg te kalwe. Hierdie huise moet ontruim word en sommige selfs afgebreek en verwyder word, voordat dit in die see stort.


Dit herinner so aan Jesus se gelykenis van die huis, wat op sand gebou is. Soos in Hemsby moes dit vir die gelykenis se huiseienaar heel romanties gelyk het om so naby die see te wees en snags deur die geluid van die branders gesus te wees. EN die kinders kan heerlik in die sand speel! As die erfie dan ook goedkoper is as dié, wat hoër op teen die rotsagtige, bebosde hange lê, lyk dit na ‘n goeie plan, veral as dit ook soveel makliker is om op die sand te bou. Die probleem is dat erosie hierdie pragtige sand kan en sál wegkalwe en my romantiese huisie in gevaar stel.


Die minder gemaklike (en dikwels heelwat duurder) opsie is om op die rotsagtige deel te bou. Dis moeite om die regte materiaal en gereedskap bymekaar te kry en gedissiplineerd die regte prosedure te volg. Net so moet ek, om ‘n verstandige bouer aan die lewe te wees, die regte materiaal en gereedskap gebruik en gedissiplineerd die regte posedure volg. Ek moet die “materiaal” en “gereedskap” versamel deur die bestudering van die Bybel en veral hoe om dit in my alledaagse lewe toe te pas. Dan kom die bouwerk: om in gehoorsaamheid op die Rots, Jesus Christus, en volgens Sy plan te “bou”.


Wanneer die “springgety” en die storms van die lewe dan kom, hoef ek nie angstig te begin soek na planne om my wankelrige lewenshuis te red nie. Dit staan vas op die Rots, wat nie kan wankel nie. My verantwoordelikheid is net om steeds tyd te spandeer met Sy handleiding (die Bybel), om die beginsels daarin vervat my eie te maak en daarby te staan en waarlik uit te leef.

Comments

Couldn’t Load Comments
It looks like there was a technical problem. Try reconnecting or refreshing the page.
bottom of page