top of page

Om in God se skaduwee te leef


Om in iemand anders se skaduwee te leef, het ‘n baie negatiewe konnotasie. Daar is egter Iemand in wie se skadu ek graag permanent wil bly. In Psalm 91: 1 lees ons: “Hy, wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige.”


Hoe bly ‘n mens in God se skaduwee? Deur die hele dag naby aan die Here te bly en konstant met Hom te praat. Dit beteken dat jy jou dag met God begin. Dat jy oor Hom en met Hom praat en jou dag ook eindig deur met God te praat.


So dikwels soek ons ander skaduplekke om vir ons vrede en gemoedsrus te gee. Jy soek dalk vreugde en vrede in jou verhouding met jou eggenoot, kinders of vriende. Dalk vlug jy na die skaduplek van finansiële sekuriteit. Miskien soek jy jou vreugde in wêreldse plesiere, soos drank of dobbel.


In Psalm 91 lees ons dat jy sal “rus” in die skadu van die Almagtige. Die enigste plek waar jy ware rus en vrede sal vind, is in God se teenwoordigheid. In God se skaduwee vind ons veiligheid en sekuriteit. As die lewe gebeur, bly by God en hou aan bid. As die vyand by jou wil steel, neem jou permanente intrek in God se skaduwee. Psalm 91 sê nie dat dit altyd met jou goed sal gaan nie, maar dit leer ons wel dat jy, te midde van ‘n storm, vrede kan beleef. Dat jy sal kan sê: “It is well with my soul.”


Iemand, wat in God se skaduwee leef, sal voortdurend daarna streef om God beter te leer ken. In Filippense 3:8 sê Paulus: “Ja, om Christus Jesus te ken, is so wonderlik dat ek alle ander dinge as ‘n verlies beskou.” Dit beteken ook dat jy sal volhard in gebed in goeie en in slegte tye.


Hoe nader ‘n mens aan God bly, hoe meer word jy soos Hy en hoe meer straal jy Sy heerlikheid uit. As jy in God se skaduwee leef, sal jy ook vir ander skaduwee bied. As die spreekwoordelike son te warm vir jou naaste raak, sal jy kan uithelp met dade en koel, lawende woorde van bemoediging.


Miskien is dit tyd om te “trek”. Miskien is dit tyd om God se skaduwee jou permanente woonplek te maak.

Comentarios


bottom of page