• Roedolf Botha

Om af te daal in navolging


Ek onthou nog hoe die Amerikaanse predikant, Bill Hybels, destyds voorspel het dat een van sy boeke nie goed sal verkoop nie. Die boek was getiteld Descending into Greatness en het gehandel oor hoe om nederig te wees. Die uitgewers wou hê dat hy die boek moes publiseer. Hy gee toe in, maar met ‘n waarskuwing dat alhoewel die tema van nederigheid uiters belangrik in die Bybel is, die meeste mense nie daarin sal belangstel nie. Hy het gemeen dat ‘n boek met so ‘n tema nie naastenby so populêr sal wees soos sy ander boeke nie. Nederigheid is immers nie ‘n hoë waarde in ons kultuur nie, ook nie in die kerk nie! Mense stel veel eerder belang in hoe om suksesvol te wees.


Hy was reg. Die boek was ‘n swak verkoper.


Don Cousins, ‘n gemeentekonsultant, beweer dat een van die redes skyn te wees dat gelowiges nie werklik die navolgingsaspek van geloof ernstig opneem nie. Christene is ten diepste volgelinge en volgelingskap vra nederigheid. In ons kultuur wil mense egter eerder leiers as volgelinge wees. Cousins vertel hoe ‘n jongman by ‘n universiteit ingeskryf het. Een van die vrae op sy aansoekvorm was: “Is jy ‘n leier of ‘n volgeling?” waarop hy toe aandui: “Volgeling.” ‘n Paar weke later bel die rektor hom toe en sê:


Ek skakel gewoonlik nie studente om hulle geluk te wens met hulle suksesvolle universiteitsaansoek nie. Maar in jou geval is ons uitermate dankbaar om jou hier te kan ontvang. Ons het 500 studente aanvaar vir die komende jaar, waarvan 499 hulleself as leiers identifiseer!


Iemand vertel vir my hoe hy by die inligtingstoonbank van een van die grootste boekuitgewers in die VSA gevra het hoeveel boektitels hulle op hulle databasis het oor die tema van leierskap. Daar is 125 sulke titels gevind. Toe vra die persoon hoeveel boektitels daar oor navolgingskap bestaan.


Sy kon geen titels kry nie.


Daar is ‘n sterk verband tussen navolgingskap en nederigheid. Dis maklik om te sê ek glo in Jesus, maar dis iets heel anders om Hom te volg. Laasgenoemde beteken ek is nie in beheer nie, my wil is nie belangrik nie en my wense en begeertes is ondergeskik aan God se wil.


Daar is natuurlik in beginsel niks met leierskap verkeerd nie. Ek self is iemand, wat dink dat ek oor leierseienskappe beskik. Die probleem is dat leierskap vandag tot ‘n statussimbool in ons samelewing verhef is. Daarvan spreek bogenoemde voorbeelde. Ons is vandag nog soos die dissipels, wat stry oor wie die belangrikste is. Dan roep Jesus ‘n kindjie nader en sê ons moet soos kinders word (Matteus 18:1-5). Kinders het nog geen bydrae gelewer tot die ekonomie nie. Hulle het nog geen maatskappy gelei nie. Hulle het nog geen gemeente laat groei nie. Hulle bankbalans toon nog geen wins nie. Kinders volg, hulle lei nie.


Maar ons? Nee, ons wil groot wees.


Ons wil lei.


Ons sê dit natuurlik nie hardop nie, maar ons hou daarvan om in beheer te wees.


Ons volg nie. Ons stap voor.


Ons wil nie luister na alternatiewe opinies nie. Ons wil opinies gee.


Ons wil nie luister nie, ons wil praat.


Ons wil nie oortuig word nie, ons wil ander oortuig.


Ons wil in Jesus glo, maar ons wil nie volg nie.


Ons wil die ewige lewe hê, maar nie onder Sy heerskappy leef nie.


Jesus sê ons moenie leierskap begeer nie - ons moet kindskap najaag. En kinders is wesens, wat volg.


As jy ooit daai boekie oor nederigheid op ‘n winkelrak teëkom, koop dit maar.