Om aandag te gee
top of page

Om aandag te gee


Worship is to pay attention.

Dis hoe Eugene Peterson ‘n lewe van verwondering en aanbidding teenoor God beskryf. Om God te aanbid is om konstant, daagliks te fokus op één Persoon.


Toe ek die ander dag weer kyk na die briljante komediedrama, As Good As It Gets, val een toneel my op, wat my dadelik laat dink het aan Peterson te aanhaling. Dit het plaasgevind toe die fliek se drie hoofkarakters, Melvin Udall, Carol Connelly en Simon Bishop, saam in ‘n motor ry op pad na ‘n bepaalde bestemming. Die drie hoofrolle is onderskeidelik deur Jack Nicholson, Helen Hunt en Greg Kinnear gespeel. Terwyl Melvin agter in die motor ry, raak Carol en Simon in ‘n diep gesprek, in die voorste gestoeltes betrokke. Carol was aan die stuur. Dit loop toe uit op ‘n oomblik, waar Simon begin om sy hart te deel deur te vertel van sy stormagtige verhouding met sy eie ouers en hoe sleg dit hom beïnvloed het.


Toe doen Carol iets buitengewoon.


Sy skakel die motor se flikkerlig aan, trek van die pad af, skakel die motor af, draai na Simon en sê:


Right, now I can give you my undivided attention.

Ons navolging van Jesus, ons aanbidding van God en ons verhoudings met mekaar werk ook so. In die Bybel, maar veral aan die kruis, gee God nie net Sy Seun vir ons nie, maar deel Hy Sy hart met die wêreld. Hy het ons lief. Hy maak Homself kwesbaar en lê Sy liefde vir ons bloot, tot op die punt van totale kwesbaarheid.


Die enigste gepaste reaksie van ons kant af, is om te aandag te gee. Doen alles in jou vermoë om in te neem wat hier gebeur. Moenie aanneem jy verstaan reeds alles nie. Dink weer. Kyk weer, dieper. Die betekenis van die ganse kosmos en die vreugde van ons lewens word hier openbaar. Verwyder alle afleidings. Trek van die pad. Skakel af. Bêre die selfoon. Skakel die TV af. Draai na die kruis en gee aandag. Luister. Kyk. Dink en reflekteer. En moenie vergeet om verwonderd te wees nie.


Wees verwonderd oor God se kapasiteit om ons lief te hê. Jesus sê: Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in My liefde bly.


Dis goeie nuus.


Dis al ons aandag werd.

bottom of page