Nuwe jaar: heel jaar elke dag nuut
top of page

Nuwe jaar: heel jaar elke dag nuut


Nuwejaar!

‘n Nuwe jaar lê voor die deur en om elke hoek en draai tref die buzz word, die slagspreuk / wagwoord / modewoord ons: “Nuwejaarsvoornemens!”

 

Met ‘n nuwe jaar op hande, is daar min mense, wat nie ten minste met een of twee nuwe (dalk ou?) voornemens die nuwe jaar tegemoet gaan nie. Dalk nuwe drome, deesdae dikwels besorgdheid oor finansies, oor landswye en wêreldwye politieke onsekerheid.

 

As Christen het ek ook nog die addisionele verantwoordelikheid om so te lewe dat mense Jesus sal leer ken en liefkry. Of ek dus student of lektor is, winkelassistent of magnaat, alles wat ek doen, moet ek in die Naam van my Here Jesus doen. Geesvervuld en Geesbeheerd kán ek in feitlik enige beroep of situasie ‘n getuie van God se liefde en genade wees. So gebruik ‘n jong vriend van ons sy stryd met kanker as ‘n geleentheid om te getuig van God se liefde en trou, in alle omstandighede. Ook daar is dit waar dat “what you do today, matters for eternity”. (Life Application Bible, 1 Corinthians 15:30-34)

 

Wat my besorgdheid oor die toekoms betref, is dit goed om te onthou dat God die enigste blywende sekuriteit bied. Die onvermydelike haakplekke en uitdagings gáán kom, maar ek het die troos van Hebreërs 13:5b-6 NLV: “Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp; daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?’”

 

Een Nuwejaarsvoorneme, wat vir my persoonlik (en ek glo vir elke Christen) ‘n móét is, waaraan ons heeljaar kan werk, is om gereeld werklik tyd in persoonlike Bybelstudie en gebed deur te bring. Dit is daardie dinamiese persoonlike stiltetyd, wat ook van Jesus se lewe hier op aarde deel was. So leer ons die God van liefde beter ken, word ons verander om soos Jesus te wees, raak ons toegerus om deur ons voorbeeld, optrede en woorde ons Here Jesus se Naam te eer en om werklik ‘n verskil in 2024 te maak.

bottom of page