Nuwe bedienings
top of page

Nuwe bedienings


Lees 2 Korintiërs 3:6


Wat ‘n voorreg om ander te bedien met ‘n Goddelike ooreenkoms of ‘n verbond. Nog beter – dis ‘n bediening van die Gees en nie van dooie letters nie. Nee, die bediening van die Gees het nie te make met dooie dinge nie, maar met die Een en Enigste Lewende Gees. Sy bediening is altyd een van die hart - alle ander bedienings is dooie letters op kliptablette.


Eers wanneer godsdiens in die hande van die Gees is, verskuif die klem vanaf dood na lewe. Godsdiens is nie lewe as sodanig nie, al assosieer vele mense dit summier hiermee. Dis juis die punt, wat Paulus met ons wil deel - dat die Gees in enige bediening moet wees, voordat dit lewe word. Hier’s die goeie nuus: Hy is in elke bediening, waar Christus mense in lewende briewe verander. Daar is die Gees die ink. Daar verander die aard en inhoud van die bediening vanaf dood na lewe en vanaf letters na Gees.


Nee, ons kan nie self mense tot nuwe lewe beweeg nie. Net die Gees doen dit. Hy alleen maak lewend, soos wat Paulus in vers 6 sê. Maar jy en ek kan voltydse bedienaars van hierdie fenomenale Gees-bediening wees. Ons kan op die brug tussen die lewende God en mense staan en Sy genade oorvertel deur ons daar wees, ons getuienis en ons gebede. Ons moet maar net aanmeld vir diens.


Gebed:

Asseblief Here, laat my bediening in die teken van U Gees se werking staan. Amen.

bottom of page