Nuut is nie altyd goed, en oud is nie altyd sleg nie
top of page

Nuut is nie altyd goed, en oud is nie altyd sleg nie


In hierdie My Wêreld nuusbrief bespreek Roedolf Botha die stelling dat nuut is nie altyd goed, en oud is nie altyd sleg nie.
Nuut is nie altyd goed, en oud is nie altyd sleg nie

Dis asof almal behep is met die nuutste foefies. Nuwe idees, nuwe mense met nuwe opinies, nuwe produkte op die mark. Die uitdaging is deesdae daaroor om by te hou by alles. Almal probeer met die nuutste idees smous, op hoogte mees met die nuutste bevliegings. Nuwe self help gurus neem sosiale media oor. Almal probeer in wees met die nuutste tegnologiese app, of die nuutste kunstenaar op die circuit. Indien iemand van ‘n fliek praat ouer as twintig jaar dan word die arme persoon aangekyk asof hy van ‘n ander planeet af is. Indien ons iemand sien wat nog nie die nuutste selfoon het of die nuutste program bemeester het nie dan rol ons die oë hemelwaarts en wonder: Gaan die arme persoon dan nooit bykom nie?


Ons moet egter nie blind wees vir die nutteloosheid van sommige nuwighede nie. Ons moet ook nie die wyshede van die verre verlede minag nie. Die Bybel is immers stokou wysheid, tog beleef ons hoe God Homself openbaar daardeur.


Die ou wysgere van die antieke wêreld het radikaal teenoorgestelde sienings gehad as ons vandag. Hulle was veel meer skepties oor die nuwe en het vasgehou aan die oue. Dit was nie bloot om outyds of star in hulle denke was nie. Dit was eintlik heel logies. Die oue het die toets van die tyd deurstaan. So is daar gevoel. Dit is al bewys as betroubaar en waar. Net die tyd kan dit leer. Nuwe idees en uitvindsels – al klink dit hoe oulik of sinvol – is met agterdog bejeën omdat dit nog nie werklik getoets was deur die perspektief van tyd nie.


Een van die nuutste Bond-flieks sluit nogal by hierdie beginsel aan. In die voorlaaste Bond-prent – Skyfall – word daar nogal baie gemaak van die waarde en gebruik van die oue. Dis nogal onverwags van James Bond aangesien hierdie flieks juis gewoonlik vol is wat al die nuutste tegnologiese gadgets. In Skyfall egter, is daar ‘n paar interessante tonele wat mens nogal laat wonder oor mense se gedurige vergrype na alles wat nuut lyk. In die een toneel skeer Bond homself met ‘n outydse skeerlem in plaas van ‘n nuwe skeermes of selfs ‘n elektriese een. Toe sy Miss Moneypenny dit sien reageer sy met die woorde:

How very traditional. But sometimes, the old ways are the best.

Hierdie frase is met opset geuiter en dis ‘n sleutelfrase om die res van die fliek sinvol te volg. Waar die karakter Q gewoonlik vir Bond toerus met die nuutste tegnologiese wonders, gee hy hom hierdie keer slegs ‘n eenvoudige outydse radio-opvanger, waarmee hy later die booswig vastrek. Heel tradisioneel. Naby aan die einde van die rolprent verruil hy sy nuutste netjiese motor kar vir sy ou Astin Martin (wat in sommige van die heel eerste Bond-flieks gebruik is), omdat hierdie motor nie elektronies met behulp van ‘n GPS opgespoor kan word deur die terroriste nie. Heel aan die einde van die rolprent gebruik Bond ook ouer, meer tradisionele wapens om sy vyand mee te verstaan.

Die heel interessantste is dat hierdie prent selfs die ou Christelike idee van dood en opstanding gebruik. Aan die begin van die storie word Bond geskiet en die effek wat geskep word is baie oortuigend dat hy waarskynlik dood is. Daar word selfs vir hom ‘n roudiens gehou. Later verskyn hy egter weer uit die niet. Die effek wat geskep word is dat hy as’t ware uit die dood opstaan. Later vra iemand hom wat sy lewensstokperdjie is, waarop hy dan antwoord:

Resurrection!

Laat ons die nuwe omhels en geniet. Nuwe dinge kan wonderlike moontlikhede bied. Maar laat ons nie elke nuwe ding vasgryp asof dit redding vanself is en lewe bring nie. Moenie dat mense jou gedurig uncool laat voel net omdat jy nie in die nuutste foefie wil belê nie. Nie alles wat nuut is is noodwendig waar, goed en mooi nie. Wat jy reeds het is dalk goed genoeg.

Sometime the old ways are the best.

Laat ons ook nie vergeet dat die boodskap waaraan ons vashou al baie oud is nie. Bring my die ou-ou tyding, is hoe ons dit altyd gesing het! Dis juis hierdie ou-ou tyding wat vir ons geleer het dat Jesus die Here is, dat liefde wen, dat lewe seëvier, dat alle mense van onskatbare waarde is en dat God met ons is.


En dis vandag nog netso waar, goed en mooi!

bottom of page