Nog meer goeie nuus, asseblief
top of page

Nog meer goeie nuus, asseblief


“Julle moet meer teen sonde preek,” sê iemand in die publiek. “Vandag se jongmense het nie meer ’n sondebesef nie. Dit moet weer by hulle ingedril word.” Iemand anders antwoord toe: “Ek dink ons moet nog meer oor Christus preek!” “Nee, dit is omdat die kerk sag geword het op sonde dat dit so sleg gaan,” kom die reaksie. Terwyl ’n leraar my vertel van hierdie gesprek, wat hy iewers in die publiek beleef het, wonder ek hoekom meen sommiges dat nog meer klem op sonde en op alles wat verkeerd is, mense nader aan God sal bring. Eeue lank probeer godsdienstiges hierdie roete en dit lewer eintlik net nog skuldgevoelens op, maar nie nuwe lewe nie.


Nooit het Jesus dinge soos sonde, straf, die hel en oordeel as afskrikmiddels gebruik nie. Nee, Hy het nooit hierdie realiteite ontken nie, maar Hy het mense nie hiermee gedreig sodat hulle vir God uit vrees moet kies nie. Dit is juis andersom. Jesus het vir mense in Johannes 6 geleer Hyself is die lewende brood uit die hemel. Of die Goeie Herder wat vir al Sy skape lewe tot in ewigheid gee (Johannes 10). Op magnetiese maniere het Jesus mense uitgenooi na Hom toe. Daarom kon droogmakers, sondaars, verlorenes, soekers en onreines altyd genade by Hom vind. Levi en sy vriende kon byvoorbeeld in Markus 2 hoor dat Jesus kom om te soek en te red … en hulle kon dit ook eerstehands beleef. Die sondige vrou van Lukas 7, wat Jesus se voete natgehuil het met haar trane, kon ervaar dat haar geloof haar gered het. Sy kon van vooraf begin met ’n nuwe lewe. Vandag nog is dit waar. Jesus trek ons nader deur Sy genade. Hy bedek ons oortredings deur Sy eie offer aan die kruis. Hy skenk nuwe lewe en vryheid aan elkeen, wat Hom aanroep. Hierdie evangelie, hierdie goeie nuus, moet ons almal nog meer preek en nog meer uitleef.

bottom of page