• Stephan Joubert

Nie deur skuldgevoelens nie, maar deur Christus


Skuldgevoelens is ’n gewilde hefboom. Baie mense gebruik dit om ander te beweeg om sleg of skuldig te voel,of om dankbaar te wees of betrokke te raak. Hulle vertel graag vir jou hoe arm, siek, en benadeeld ander mense is. Hierna sê hulle vir jou dat jy moet dankbaar wees jy staan nie in daardie mense se skoene nie.


Voordat jy my verkeerd hoor - natuurlik moet ons empatie hê met mense, wat swaarkry. Dit is tog deel van die normale Christelike lewe dat ons ’n hart vir mense in nood het, maar om ander se goor omstandighede gedurig met ons eie situasies te vergelyk en om ons dan te laat sleg voel hieroor, is nie die beste manier om deernis aan te wakker nie. Dis ook nie die regte manier nie. Die evangelie roep ons op tot ’n baie ruimer roete as dié van skuldgevoelens. Die Here se goedheid en genade moedig ons aan om ’n lewe van medelye teenoor mekaar te leef. In 2 Korintiërs 8:9 verduidelik Paulus hierdie beginsel aan die hand van Christus se grenslose goedheid, daardie soort, wat gemaak het dat Hy Sy hemelse rykdom agtergelaat het en soos ’n slaaf hier op aarde kom leef het. Hoor net hoe mooi stel Paulus dit: “Julle ken die goedheid en genade van ons Here, Jesus Christus. Hy, wat van ewigheid af skatryk is, het dit alles prysgegee. Hy het arm geword ter wille van julle. Hy het dit gedoen sodat julle ryklik geseën kan word uit Sy armoede.”


Ons Heer se selflose opoffering is ons belangrikste kompas, wanneer dit gaan oor dankbaarheid en omgee. Sy hart klop nou in ons binneste. Sy deernis lek uit in ons eie lewe. Daarom gee ons nie net om vir ander,wanneer dit ons pas nie of wanneer ons skuldig voel nie. Ons gee om altyd en orals, want dit is die regte ding om te doen. Ons bewys aanhoudend medelye. Ons gee áltyd om. Ons offer voortdúrend op. Ons dra permanént ander se laste. Ons reik gedurig uit. Ons help sonder ophou in die Heer se Naam.