Nie behoefte-aangedrewe nie
top of page

Nie behoefte-aangedrewe nie


“You can’t always get what you want.” So sing Mick Jagger en die Rolling Stones. Inderdaad! Ons kan nie altyd kry wat ons wil hê nie. Daarom is baie mense ongelukkig, want hulle is “wants and needs driven”, soos wat die Engelse dit sou sê. Hulle leef behoeftegedrewe. So ’n leefwyse is ’n bodemlose put. Behoeftegedrewe mense het nooit genoeg nie. Daar is altyd nog iets, wat hulle kortkom voordat hulle regtig gelukkig in hulle eie oë kan wees. Hulle glo dat die volgende item op hulle wenslys hulle gelukkig sal maak. Maar dit doen nie, want daar’s altyd net nog iets anders wat hulle ook nog nodig het … net nog ’n nuwe selfoon, kledingstuk, implement, instrument, huis, toer, reis, ervaring, vakansie, motor…


Behoeftegedrewe mense is professionele tekortkommers! Van vroeg tot laat kom hulle dinge kort. Jesus waarsku ons in Lukas 12:22-34 teen so ‘n leefwyse. Dit is verslawend, onvervullend, energierowend en uiteindelik is dit ook ’n geloofdief. Wanneer eindelose selfsugtige behoeftes ons lewe oorheers, is niks ooit genoeg nie. Jesus weet dit. Hy weet geluk voor God word nie bepaal deur die oorvloed of gebrek aan besittings in ons lewe nie. Hy weet dat ’n diep bewussyn van God se teenwoordigheid ons vrymaak van ’n angstige nastreef van dinge en besittings. Die lewe gaan uiteindelik oor God se nabyheid en Sy goedheid in ons lewens. Hoe gelukkig is ons dus nie as ons met groot oortuiging kan sê: “Die Here is my herder - ek kom niks kort nie (Psalm 23:1).” Dit is ware rus om in die hande van die Goeie Herder te mag wees. Maar om hierdie rus te vind, moet ons opnuut kies om Sy skape te wees. Dan is voltydse vrede ons deel. Dan is die Here ons skuilplek, ons troos, ons anker, ons nabyheid en ons lewe!

bottom of page