Net vir die Here!
top of page

Net vir die Here!


Baie van ons ken bekende Christen name, soos CS Lewis, Dietrich Bonhoeffer, Martin Luther of James Hudson Taylor. Maar wie ken die naam Franz Jägerstätter? Niemand, wat ek ken, het al ooit van hom gehoor nie. Ek ook nie, tot ‘n paar weke gelede. Dis dalk presies die punt.


In 2019 het die fliek, A Hidden Life, vir die eerste keer sy storie op ‘n skerm bekend gemaak, met die bekroonde Terence Malick as regisseur. Franz Jägerstätter het sy lewe as martelaar vir Jesus tydens die Tweede Wêreldoorlog opgeoffer. Wat sy storie egter anders maak as ander meer bekende martelaars, soos Bonhoeffer, is dat niemand hom geken het nie. Niemand het geweet wie hy was nie. Hy het geen bevrydingsbeweging gelei of ‘n bekende boek geskryf nie. Hy was geen politieke leier, filosoof of teoloog nie. Hy was bloot ‘n Pruisiese boer, wat sy eie klein lappie grond in die berge gehad en dit bewerk het. Hy was getroud met Franziska en hulle het twee klein kindertjies gehad. Hy en Franziska was smoorverlief op mekaar en het ‘n uiters vervulde en tevrede lewe gelei. Toe hy van die Pruisiese regering die opdrag kry om in Hitler se weermag te veg, toe weet hy dat sy geloof hom nie gaan toelaat om in ‘n diktator se diens te staan nie. Hy weier toe op sy stil manier volstrek. Frans het ‘n baie stil en sagte geaardheid gehad. Hy het geen lawaai gemaak, ander mense veroordeel of probeer baklei nie. Hy het homself nie eers hard probeer verdedig nie, behalwe om net voet by stuk te hou dat hy nie sal toegee nie.


Hy is natuurlik kort na sy weiering gevange geneem en na ‘n konsentrasiekamp in Berlyn geneem. Daar het mense met hom probeer mooi praat en hom anders probeer oortuig. Later het die bevelvoerder dit vir hom selfs nog makliker gemaak deur vir hom ‘n papier en pen te gee en te vra dat hy net as belydenis moet teken. Indien hy dit wel sou doen, kon hy terugkeer na sy gelukkige lewe saam met sy vrou en kinders. Later het die offisier, vanweë Franz se onbekendheid, vir hom gevra:


Watter roem dink jy sal jou eie dood vir jou bring? Watter doel sal dit dien? Watter nut sal dit hê? Niemand sal eers weet van jou offer nie. Wat probeer jy bereik hierdeur? Niemand gaan eers weet nie.

Aan die einde van die fliek het dit egter duidelik geword dat Franz dit vir net een rede gedoen het. Nie omdat sy offer noodwendig die wêreld sou verander, of die een of ander nood sou verlig of ‘n nuwe stroming sou begin nie. Hy het dit slegs gedoen, omdat hy die Here lief het en Hom nie kan teleurstel nie. Dis al. Hy wou die regte ding doen, al beteken dit dat niemand anders sou weet wat hy doen nie. God sou weet. Niemand anders sou hom op die skouer klop nie. Niemand sou hom gelukwens nie. Sy offer was slegs om Jesus lief te hê.


Dit was vir hom genoeg.

bottom of page