’n Vinnige meesterklas oor die liefde
top of page

’n Vinnige meesterklas oor die liefde


God is liefde. Hy het ons heel eerste lief. Hy het ons al die pad lief. Dit kos Hom ’n kruis om sy liefde vir ons te wys. Die Here vra dat ons Hom terug moet liefhê met alles in ons. Ook vra Hy dat ons mekaar moet liefhê. Om lief te hê, behoort vir ons maklik te wees. Dit is tog deel van ons identiteit as kinders van God. As ons nie liefhet nie, dan maak ons ’n bespotting van God se liefde vir ons en ons geloof in Hom. Die eerste Johannesbrief sê sommer padlangs dat ons leuenaars is as ons sê ons het God lief maar ons haat ons naaste.


Wel, wat van ’n vinnige meesterklas oor die liefde uit 1 Korintiërs 13:4-7:


Les 1: Liefde is meer as gevoelens. Dit is voltydse lojaliteit teenoor die Here en ander. Liefde is ’n keuse om deur dik en dun getrou te wees aan God en aan ander. Dit is aanhoudende keuses om ons rug te draai op haat en om God raak te sien.


Les 2: Liefde is daaglikse wilsbesluite om op Christus se tweede-myl pad te leef. Dit is doelbewuste keuses om ander mense vriendelik te behandel, al verdien hulle dit nie. Dit is om te kies om nie boek te hou van die kwaad wat sommiges ons aandoen nie. Of om oor mense te skinder nie. Liefde is ook om te kies om die beste van mense te glo en hulle altyd so te behandel. Liefde glo, hoop en verdra alles, sonder dat ons ooit verbitterd raak oor onreg.


Les 3: Liefde is om weg te leef van onsself. Dit maak ons minder selfbehep. Dit stroop ons van ons eie ego en arrogansie. Liefde bring nederigheid, vryheid en vreugde in ons lewe. Dit laat ons fokus op die nood en behoeftes van ander. Liefde maak ons sagter en meer bruikbaar vir die Here. Liefde skryf ons uit die hoofrol in ons eie lewe uit. Die Here en ander mense speel nou die hoofrol.


Beoefen God se soort liefde elke dag en leef!

bottom of page