‘n Rusplek langs die pad vir tuisverpleërs
top of page

‘n Rusplek langs die pad vir tuisverpleërs


Laat ek saamvat: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees. En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee. – Kolossense 3:17, Die Boodskap



Covid het toe ook by die Gardners ‘n draai kom maak. Met ‘n paar gepaardgaande (en sommer net gelyktydige) haakplekke, het ons tweetjies deeglike opleiding as tuisverpleërs gehad en in die proses ‘n paar lewenslesse geleer.


Natuurlik hoor ons ook gereeld van ander wat swaarkry met siekwees, of met tuisverpleging van ‘n geliefde wat óf baie siek én boonop uiters iesegrimmig en dalk nog hardkoppig ook is. Dit troos wel as vriende en familie prakties en emosioneel ondersteun, maar om dag en nag ‘n besorgde versorger te wees, kan uitmergelend wees.


Ek as tuisversorger / -verpleër het ‘n toevlugsoord, ‘n veilige hawe, ‘n skuilplek nodig. ‘n Plek waar ek veilig voel om my hart uit te praat, lekker te kla of huil. Dis net hier waar ek as Christen so ‘n toevlugsoord vir versorgers het – daar is Een, wat my na ‘n veilige hawe bring, my in Sy heilige teenwoordigheid verwelkom. Dis waar Hy my vertroos en toerus met insig en nuwe krag. In hierdie skuilplek (my alleentyd aan my Hemelvader se voete) word ek gevoed en toegerus vir die uitdagings, wat voorlê. Dan weet ek dat waar ek ook al gaan en wat ek ook al doen, God se teenwoordigheid ook van my lewe ‘n veilige hawe vir ander kan maak.


In hierdie heilige plek van ontmoeting kan ek opnuut bid vir wysheid en insig, vir die moed en deursettingsvermoë, vir die krag en liefde en selfbeheersing waarvan 2 Tim. 1:7 praat. Dit is waar Hy my in Jesaja 43:2 herinner: As jy deur diep water gaan, sal Ek by jou wees.

Dit is ook hier waar die Here my leer om my moeilike omstandighede deur Sy bril te sien:

5b: Ek sal jou nie los nie.

Ek sal jou nie in die steek laat nie.

6: Daarom kan ons moed skep en antwoord: Die Here is my helper; daarom sal ek nie bang wees nie. – Hebreërs 13:5-6a, AFR83


Al sien niemand anders raak hoe groot en moeilik my opoffering is nie, is niks, wat ek vir God doen, ooit tevergeefs nie. Dit beteken dat ook die versorging en ondersteuning van my siek familielid nie tevergeefs is nie. Die opoffering, wat ek moet maak, is kosbaar in die Here se oë. Veral as ek dit doen, soos Die Boodskapdit so mooi stel: … asof Jesus elke tree saam met (my) gee – Kolossense 3:17.


bottom of page